Atlas skud sy vooras af

2012-07-14 15:36

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Ná eeue van filosowe wat ons vertel het watter sosiale wesens ons is – van Sokrates deur Thomas Hobbes en Jean-Jacques Rousseau tot by Hegel en Marx – het dit Ayn Rand se The Fountainhead en Atlas Shrugged gevat om die “ek” uit die “ons” te haal. Op filosofiese vlak het Rand net drie A’s aanbeveel: Aristoteles, Aquinas en Ayn haarselwers. Dis dié drie wat getel het – aldus Alisa Zinov’yevna Rosenbaum (soos Rand in 1905 in St. Petersburg gebore is).

Ontleed ons egter hierdie lysie vind ons dis Hobbes wat in 1650 reeds in sy formidabele Leviathan die sosiale kontrak-teorie gepostuleer het – ’n kontrak tussen ek, jy en ’n derde party, naamlik die staat, wat ons belange moes orden. Want doen ons dit nié, en word dit aan “the state of nature” oorgelaat om sake tussen mense te besleg, dan is die lewe “solitary, poor, nasty, brutish and short”.

Die lewensverwagting in Hobbes se tyd was net 40 jaar.

Nou’s dit ook interessant om die ontwikkeling van lewensverwagtinge en Rand se “brênd” van filosofie naas die groei van rykdom te stel. In die laat 1960’s het die Beatles reeds ’n George Harrison-komposisie met die titel I, Me, Mine opgeneem. Die hippie-ideaal van vreedsame groeplewe “in die natuur” het kort daarna begin verbrokkel. Die “ek”-generasie is gebore.

En vandag het ons Apple se iPhone en iPad, Hyundai se i10, i20, i30 en i40 – en ’n nuwe BMW-handelsmerk, genaamd BMW i, wat (ten minste oorsee) onafhanklik bemark sal word.

Die nuwe Hyundai i30, terloops, is pas in Suid-Afrika bekend gestel; Rapport Motors berig volgende week oor hom.

Maar eers die sosiale verskynsel van groot groepe mense, die massamens: Skares in sokkerstadions; betogers op Tahrir-plein; volgepakte busse, treine, moltreine en taxi’s; die hippies wat so deur die filosoof Herbert Marcuse se One-Dimensional Man betower is, ’n boek waarin Marcuse gewaarsku het teen die soort mens... wat ons nou oral om ons sien: Wesens wat absoluut in een rigting spesialiseer en net werk en werk en werk en van niks anders rondom hulle weet nie.

So, die massamens: In’t algemeen ’n arm soort mens. Die superrykes, die ouens wat Rolls-Royces ry, woon in herehuise op groot, oop lappe land.

En dan’s daar die arm rykes, of die ryk armes – die propperse middelklas – wat in stede woon. Of mega-stede, soos BMW dit noem. Driekwart van Duitsland se bevolking is klaar verstedelik; amper 80% van Frankryk s’n; meer as 80% in die VSA; meer as 85% in Denemarke en Nieu-Seeland; ’n volle 90% van Britte – en die syfers groei steeds.

Dink aan die gevolge, net in terme van vervoer, en meer spesifiek, persoonlike vervoer.

Die antwoord, seg Renault/Nissan se Carlos Ghosn onomwonde, is elektriesgedrewe voertuie. Hul antwoord, seg BMW, is “Project i” met eDrive as kernfilosofie – in wese presies wat Ghosn voorstel. Vir dié doel is BMW i geskep met twee konsepmotors wat reeds die lig gesien het: die Mega City Vehicle (MCV), wat intussen die i3 Concept geword het; en die Concept Vision Efficient Dynamics, wat intussen die i8 Concept geword het.

Nou, verskoon tog ’n naam soos Concept Vision Efficient Dynamics. Dit kom kennelik uit die Duitse leksikon, waar filosowe soos Immanuel Kant boeke soos Observations on the Feeling of the Beautiful and Sublime en Prolegomena to Any Future Metaphysics gepubliseer het.

Bloot net i3 en i8 klink veel beter. En dis belangrike motors, nie net vir BMW nie, maar vir die toekoms van persoonlike vervoer. Altwee is bestem om van vroeg in 2013 in Leipzig as inprop-hibriedmotors vir die stadsmark gebou te word: die i3 as ’n viersitplek-buksie en die i8 as ’n 2+2-sportkoepee.

Pas dan, is BMW se i3 Concept, i8 Concept en Mini Rocket­man Concept met die Green Good Design vir 2012 gekroon. Green Good Design is in 2009 as spruit van die wêreld se oudste en mees prestigeryke jaarlikse ontwerpstoekennings, Good Design, in die lewe geroep. Die groen-kategorie is onder meer daarop gemik om die publiek se waardering vir langdurige volgehoue energie-oplossings aan te wakker.

En as jy nou gedink het dat ’n waentjie soos die Mini Cooper die Beiere se tradisionele geloof in agterwielgedrewe motors negeer het, en dat ’n stadsbuksie soos die i3 die ondermyning verder sal versterk, dan moet jy weer dink. Mini behoort aan BMW, reg genoeg. Maar niemand praat van ’n BMW Mini of ’n BMW Rolls-Royce nie. Nee, dis bloot net Mini of Rolls.

Daarenteen sal die i3 tegnies as ’n BMW i3 bekend staan. En voorwielgedrewe? Aikôna! “Project i”, sien, is nie net op zero-uitlate gemik nie. “Project i” het ook funksionaliteit – sowel as gevestigde BMW-eienskappe soos motordinamika – onder die loep geneem.

Daarom dan dat BMW se eerste massa-geproduseerde zero-uitlaat-motor, die elektries-gedrewe (eDrive) vierdeur-i3, verpak is om vier mense te vervoer. En dis inprop-elektriese krag; die 16 kWh-litium-ioonbattery sal na verwagting binne drie uur ten volle uit ’n 220 volt-muurprop gelaai kan word, waarna die i3 se 130 kW-elektriese motor die karretjie – wat in lengte tussen die BMW 1-reeks en 3-reeks sal pas – in minder as 8?sek. van 0-100 km/h kan versnel. Topspoed sal tot 150 km beperk word, terwyl reikwydte 150 km kan oorskry as jy versigtig ry.

Punt is dat die elektriese motor op die agteras monteer, juis om die agterwiele te dryf. Dit skep ruimte, onder meer te danke aan die afwesigheid van ’n sentrale dryftonnel, om die res van die i3 se mono-boks-ontwerp as kajuitruimte te gebruik, juis om plek vir vier insittendes in te rig.

Deel van die “Project i”-geheim is natuurlik liggewig-tegnologie; die i3 sal die eerste massa-geproduseerde motor wees met ’n groot meerderheid van bakwerk- en interne strukture uit glasveselversterkte plastiek (CFRP). ’n Nuwe aanleg van amper R1 miljard in Moses Lake in die VSA se Washington-staat (met sy hope beskikbare hidro-elektriese krag) sal rou-materiaal uit Japan gebruik om glasvesel vir die bak-in-wit aldaar te vervaardig, waarna dit na Land­shut in Duitsland verskeep sal word vir die CFRP-proses, waarna voertuie in Leipzig gebou sal word.

Leipzig se tweede zero-uitlaat-BMW sal inderdaad dan die i8 wees – nogmaals ’n inprop-motor, maar dié slag met hibried-energie, of dan ’n kombinasie van elektriese en konvensionele enjinkrag: die 2+2-i8-sportkoepee sal met ’n 7,2 kWh-litium-ioonbattery in die motor se middeltonnel, asook ’n 96 kW-elektriese motor op die vooras spog, sowel as 1.5 liter-3-silinder-petrolbron (164 kW, 300 Nm) op die agteras. Die battery sal in minder as twee uur gelaai word, waarna die pret losbars: die i8 sal die 0-100 km/h-lopie in 4.6 sekondes vermorsel (dis Porsche 911-terrein!), topspoed sal tot 250 km/h beperk word en die battery-afstand is 35 km. Verbruik sal tot minder as 3 liter/100 km beperk kan word.

En is sy vloeiende futuristiese vorme nie pragtig nie; iets wat dalk deur Observations on the Feeling of the Beautiful and Sublime en Prolegomena beskryf kan word?

Tans is daar nog geen planne om die i3 en i8 plaaslik te bemark nie. Maar hier’s iets om aan te dink: Die armste lande ter wêreld het die grootste plattelandse bevolkings, en daarom die minste stedelinge. Die groepsindroom, die saamdromming van mense, is nou ’n fenomeen onder die rykeres.

Maar ons weet tog dat stede die “ons” uit die “ek” neem en mense isoleer. Sou dít dan die simboliese betekenis van “Project i” wees? Dat jy “1” kry – soos in een, of enkel, of alleen – as jy die dotjie, of die kop, van “i” afkap?

 Pryse

Oorsee sal die i3 vir omtrent R250 000 en die i8 vir omtrent R1 miljoen verkoop. BMW het nog geen planne om enige van die twee na Suid-Afrika uit te voer nie.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-15°C Rain late. More clouds than sun. Cool. Pta: 3-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-10°C Sunny. Cool.
Dbn: 13-19°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Showery. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!