Bravo verdien meer aandag
2010-09-04 15:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Wanneer ’n massavervaardiger die rol van ’n nisvervaardiger in ’n land aanneem, voel dit net nie reg nie.
Fiat (en Alfa Romeo) se maandelikse verkope in Suid-Afrika is beskeie, om dit sagkens te stel.
Dit is of die tydsverloop tussen die destydse Uno en Fiat se produkaanbiedings tans baie voornemende karkopers die Italiaanse vervaardiger uit hul geheue laat wis het. Die Palio het dinge net-net aan die gang gehou.
Wat ook al die rede of die verlede, feit is dat Fiat vandag ’n betreklik omvattende produkreeks het wat selfs ’n bussie en ’n bakkie insluit. Aan die ander kant daarvan is daar weer retro-rygoed soos die oulike 500.
Iewers in die middel is die groot luikrug, die Bravo, wat in die massamark meeding en teen swaargewigte soos die Volkswagen Golf, Toyota AurisX, Peugeot 308, Renault Mégane, Ford Focus, Mazda3, Honda Civic en Hyundai i30 boks.
Tog is die Bravo se maandelikse verkope ’n fraksie in vergelyking met dié van sy mededingers. Goed, omtrent al die mededingers het ’n wyer verskeidenheid modelle in hul reekse, met Fiat wat besluit het om die Bravo tot een model, die 1.4 TJet Sport, wat in kort bloot Bravo Sport genoem word, te reduseer.
Hoe meer tyd jy agter die stuur van die Bravo deurbring, hoe meer geheg raak jy aan die kar.
Fiat was een van die eerste vervaardigers wat die “minder is meer”-konsep ingespan het deur van ’n 1400-turbo-enjin gebruik te maak. Deesdae raak dit mode.
Die enjin se 110 kW en 230 Nm is beter as dié van sy vernaamste mededingers in sy prysklas (R242 893, groenbelasting ingesluit), naamlik die 90 kW-Volkswagen Golf en die 96 kW-Renault Mégane, albei ook 1400’s met turbo’s.
Vir die res is die Bravo Sport goed toegerus met net die nuttige Blue&Me-kommunikasiestelsel wat teen R3 320 opsioneel is. Dit bevat ’n koppelpunt vir ’n USB-geheuestokkie, stemaktivering vir talle funksies, ’n hardeskyf vir die stoor van musiek en ’n Bluetooth-selfoonstelsel.
Die Bravo Sport is een van die min rygoed wat die Sport-deel van sy naam grootliks gestand doen.
Terwyl ons binne is. Daardie blinkerige materiaal (blou of rooi) van die sitplekke en deurpanele lyk vir my eersteklas, asook die meer dowwe plastiek, wat geweef lyk, wat op die voorpaneel ingespan word.
Die sitplekke is baie gemaklik met redelike systeun vir wanneer jy die Italianertjie se dinamika op die proef stel.
Binneruimte is goed danksy ’n goeie algehele lengte en asafstand en die bagasieruim is waarskynlik die grootste in sy klas.
Die instrumentasie – die elektroniese gedeeltes wat onder meer die ritrekenaar huisves – is nog ’n bietjie deurmekaar en nie die mees gebruiksvriendelike wat ek al teëgekom het nie.
Die draaiknoppe van die lugversorger en waaier lyk wel soos dié van ’n ou stoof, maar is ten minste meer funksioneel as die drukknoppies in sommige rygoed.
Laat ons nou eerlik wees: Die binneruim lyk goed, maar die instrumentasie lyk net nie so byderwets soos dié van die nuwer mededingers in die mark nie. Hier dink ek veral aan die Franse rygoed soos die Mégane en die Peugeot 308. In die Bravo kry jy die idee die klem is meer op sport as styl.
Dit is egter aan die buitekant waar die Bravo myns insiens ’n stewige regterhou of twee inkry. Weer eens is die voorkoms baie sportief en dit lyk sommer na ’n wa waarvan jy die krane wil oopdraai. Die langerige neusgedeelte en die breë profiel, veral van agter, laat dit baie goed lyk. En die twee uitlaatpype doen dit steeds vir my as dit by ’n sportvoorkoms kom.
Maar hoe doen hy? Wel, op die pad stel hy ook nie teleur nie. Krag is daar genoeg, maar die enjin kan protesteer rooilyn toe en daar is irriterende wringstuur. Die sesgangratkas is goed, maar nie Golf- of Focus-goed in terme van vinnige, akkurate en gevoelvolle oorgooie nie. Nietemin beter as hoe die Franse en Japannese dit doen, met die uitsondering van Honda, natuurlik.
Ek dink die goeie nuus is dat die nuwer geslag Multiair-enjins met nog meer krag, laer verbruik en minder uitlaatgasse beslis in een of ander stadium hul weg na die Bravo toe sal vind. Maar tot dan is die huidige enjin meer as in staat om in die bokskryt te wees.
Op die pad sukkel die Bravo nie en die onderstel, wat ook onlangs aansienlik opgeknap is, se vasvoetigheid sonder om die stopsels in jou tande los te skud, beïndruk.
Die stuur is nie ideaal nie, maar ek’s bevrees in dié klas is daar weinig wat werklik voortreflik is.
Ek reken die Bravo verdien beter verkoopsyfers, want dit bied baie. Dis beslis nie die klasleier nie, maar ’n klasleier op genoeg terreine om dit ’n aantreklike kopie te maak.
Die Bravo is ook nie meer die jongste in sy groep nie (die nuwe een kom eers oor twee jaar). Dink meer George Clooney as Zac Efron en vir baie behoort dit genoeg te wees. Of meer Demi Moore as Kristen Stewart van vampier-faam.
- Rapport