Die stil en eerlike ou

2012-09-02 00:06

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

 ’n Kwartmiljoen. Dís die magiese syfer, veral vir Honda. Want dís omtrent die aantal eenhede van hul ikoniese Civic-model wat dié Japanse maatskappy jaarliks in Amerika verkoop – wat beteken dat die VSA vir amper die helfte van die Civic se wêreldwye verkope van 600 000 per annum verantwoordelik is.

En ja, dis feitlik in die orde van twee maal die totale Suid-Afrikaanse mark vir nuwe passassiersmotors per jaar.

Maar daar is ’n probleem, en sy naam is nie meer Toyota Corolla nie, maar Hyundai Elantra. Nou, in Amerika verkoop die Civic en Corolla omtrent ewe veel. Maar intussen het twee dinge gebeur, of eintlik drie.

Die eerste is dat Japan laas jaar ’n nasionale ramp met die tsoenami beleef het; Civic- én Corolla-verkope is deur gepaardgaande probleme in terme van produksie, voorraad en verskaffing gestriem. Die tweede is dat Hyundai (en Kia) só baldadig en só suksesvol met stilering begin woeker het dat Elantra-verkope soos ’n vuurpyl die hoogtes in is en nou aan Civic-syfers se hakskene begin byt.

En die derde? Wel, die Chevy Cruze (wat eintlik ook maar ’n Koreaanse produk is). In Amerika is sy dimensies en die ruimte wat dit bied ’n wenner; die Cruze verkoop eweneens uitstekend.
Wat alles inbreuk op Civic- en Corolla-suksesse maak.

So, kan die nuwe 9de-generasie-Civic die aanslag stuit?

Wel, in die VSA het die sedanweergawe (wat vroeër vanjaar ook in Suid-Afrika gebuig het) se konserwatiewe stilering, en veral harde voorpaneelplastieke, al goed deurgeloop. Gemeet teen die Elantra kom die Civic tweede in terme van bak- en kajuit-ontwerp... as dit nét voorkoms is wat tel.

Maar daar’s verdere oorwegings ook, soos die feit dat geen ander vervaardiger motors beter as Honda verpak nie, en dat niemand instrumente en kontroles bied wat makliker of beter as Honda s’n lees of werk nie.

Dis antwoord nommer een, dan, teen die aantyging dat ’n uitspansel van harde, dooie voorpaneelplastieke die Civic se kajuit-am­biénce lamlê.

Honda se dubbelvlak-instrumentpaneel bevat, eerstens, ’n wye, plat, hoë-liggende huls wat ver van die drywer se oë en net-net onder venstervlak gemonteer is, sodat belangrike inligting soos spoed en brandstofvlakke met ’n minimale oogbeweging, oftewel ’n enkele snelle blik, geassimileer kan word. Einste huls bevat ook twee vertikale glinsterkristalstrepies wat van kleur verander om te wys hoe hard die enjin werk en derhalwe hoe rustig of lustig daar aan’t voggies gesuip word. En vind nou iets wat beter in die nag lees.

Inligting van mindere onmiddellike belang – soos enjintoere – word in ’n laer-liggende sekondêre huls aangebied.

Voeg uitsonderlike skouerruimte plus ’n groot voetholte hierby, met ’n stewige voetrus, asook goeie pedaal-uitleg, plus ’n voorpaneel waarvan die afhangkonsole se posisie baie plek vir ’n drywer se linkerknie skep en goeie sitplekke met net die regte mate van ondersteuning op alle belangrike plekke, asook dunner A-pilare vir beter padsig en – lekkerste van alles, dalk – ’n relatief-kompakte (en effe afgeplatte) veelfunksie-stuurwiel, en dis duidelik dat die Civic-kajuit met ’n gemak, ergonomie en funksionaliteit geseën is wat plastiekvaalheid van mindere belang maak.

Agterkajuitruimte, bygesê, is klasleidend, die kattebak bied redelike pakplek (plus ’n volgrootte spaarwiel) en die tenk is – teen 50 liter – effe klein. Teen motormassas rondom 1 160 kg vir 1.6 en 1.8 liter-sedanmodelle is die Civic (in tipiese Honda-tradisie) egter lig genoeg vir gemiddelde amptelike verbruik van minder as 7 liter/100 km, syfers waartoe ’n lae sleursyfer ook bydra sodat die onderskeie modelle steeds redelike afstande tussen hervullings waarborg.

Wat mens egter verstom, is dat albei sedans, in terme van die handrat-opsie, net ’n 5-gang-kas lewer. In terme van beter verbruik, asook ’n laer arbeidslas en dus minder enjingeraas en daarom ’n kalmer kajuit-ambiénce, hou ’n sesde gang sovele voordele in.

Bygesê dat Honda natuurlik die wêreld se beste handratkaste bou wat – in terme van gemak, spoed en presisie – net ’n plesier is om te gebruik. Outokaste is meer generies, met minder van die outentieke individuele gevoel wat Honda se handkaste so besonders maak, maar ’n Civic-outo doen die jôp goed genoeg as jy sku is vir die skuifproses.

Voeg hierby die gewig en reaksie van Honda-kontroles – spriete, draaiknoppe, pedale en die stuurwiel self, laasgenoemde aan die ligte kant, maar vloeiend en eweredig – en daar’s niks anders in die Civic-segment wat met ’n beter gevoel van maklik, aan die een kant, en solied, aan die ander kant, bestuur nie. Honda-bouwerk en -betroubaarheid is boonop legendaries; nóg Rapport se 1.6 nóg die 1.8 liter-toetsmotor het enige krake of ratels gehad, en paneelgapings is op Audi-vlak.

Van enjins kan jy Honda ook niks vertel nie; teen 20 miljoen eenhede (vir motors, motorfietse, motorbote, grassnyers en dies meer) bou die maatskappy meer kragbronne as enige ander vervaardiger ter wêreld. Sowel die 1.6 (92 kW/6 500; 151 Nm/4 300) en 1.8 (104 kW/6 500; 174 Nm/4 300) is via laer interne wrywing en dies meer opgegradeer, onder meer vir beter verbruik, asook effe sterker wring teen ’n laer werkslas. Van 4 500 toere se kant raak die enkelkopnokas op elk van die enjins nogal woelig, en klankdemping kan (ten koste van ekstra gewig, natuurlik) effe beter – hoewel ’n ou Honda-swakpunt, naamlik heelwat bandgeraas, deesdae goed bekamp word.

Ritgehalte is prima, veral danksy ’n langer veerslag en onafhanklike agtervering, terwyl goeie gewigverspreiding uitstekende motor­balans waarborg en derhalwe neutrale hantering, wat weer beteken dat jy die Civic hard kan looi as dit nodig raak.

Tel alles bymekaar en Honda se nuwe C-segment-sedan kort dalk nog ’n sesde rat, ’n tweede kopnokas, ’n bietjie meer visuele oemf en beslis die luikrugweergawe se nuwe voorpaneel.

Maar wees verseker dat daar ’n onkreukbare karakter onder die konserwatiewe jas skuil. In terme van die ingenieurs- en bou-integriteit waardeur ’n briljante kombinasie van ruimte, verpakking, verrigting, verbruik, veiligheid, funksionaliteit, toerusting, gerief, gemak en betroubaarheid ondervang word, bly die Civic die segment se beste pakket – as jy lewensreddende dinamiese beheer in noodsituasies wil infaktor.

Hope gees en ’n opwindende persoonlikheid mag dalk ontbreek; die Civic-sedan is allermins die prins of hanswors of storieverteller wat ’n partytjie onvergeetlik maak.

Maar daar’s ’n stamboom van eerlikheid, betroubaarheid en selfs onfeilbaarheid agter die Honda-kenteken. Hy’s daai stil ou in die hoek wat alles kan doen. En alles góéd doen.

* Pryse – Honda Civic-sedan: R210 000 tot R270 000. Tel R12 000 by vir outomodelle.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-16°C High level clouds. Cool. Pta: 2-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 2-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: -3-15°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 8-23°C Sunny. Mild. PE: 13-16°C More sun than clouds. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!