Droom ’n lekker kardroom dié naweek
2012-08-14 13:28
Dis een van daai lekker soort langnaweke, is dit nie – waar jy ’n enkele dag verlof kan insit om vir jouself ’n mini-vakansie van vier dae te skep. Laat ons dus vandag die gees van die tye vasvang en ’n kleine bietjie droom.
Die eerste droom kom in die vorm van BMW se i8 Concept Spyder. MotorRapport het net nou die dag nog ’n volledige verslag oor BMW se toekomsmotors geplaas, waarvan die i8 met sy hibriede tegnologie – of dan ’n kombinasie van elektriese en konvensionele enjinkrag – natuurlik voorop staan.
Pas het die i8 Concept Spyder dan ook een van vele BMW-produkte geword wat deur die Duitse Ontwerpersraad as wenner in die internasionale Automotive-handelsmerkkompetisie aangewys is. Dis ’n taamlike jong kompetisie wat reeds genoeg status verwerf het om sy prysuitdelingsfunksie op groot internasionale motorskoue aan te bied; vanjaar tydens Parys se “Mondial de l’Automobile”- skou in September.
In totaal is BMW-produkte – onder meer motorfietse – met 48 pryse bekroon, waarvan 11 wenpryse was. In bakontwerp is die i8 Concept Spyder, 6-reeks Gran Coupe, Mini Roadster en BMW S 1000 RR- asook die Husqvarna Nuda 900 R-motorfietse geëer, terwyl genoemde drie motors – plus die nuwe 3-reeks-sedan – wenpryse vir kajuitontwerp verower het. Die BMW Zagato Coupe (rooi motor, regs bo) was ook ’n wenner in die Image Film-kategorie.
Dit nou alles op die rug van rekordverkope: van Januarie tot Julie het wêreldwye BMW-syfers vir die eerste keer tot nog toe die miljoen-kerf in die eerste sewe maande van ’n jaar oorskry, toe 1 036 088 BMW-, Mini- en Rolls-Royce-voertuie (teenoor laas jaar se 962 493) verhandel is. Die grootste groei spruit natuurlik uit Asië (veral China, Japan en Korea).
Gedurende dieselfde sewe maande het BMW se verkope ook in Suid-Afrika gestyg (van 14 978 laas jaar tot 16 613 vanjaar).
* Intussen is Toyota deur die Sunday Times se Top Brands Survey 2012 as die beste motorhandelsmerk in Suid-Afrika aangewys. Die peiling – wat gedoen word deur 400 invloedryke sakemense, asook 3 500 verbruikers ouer as 18, te ondervra – is deur Avusa Media aangevra en deur TNS uitgevoer.
* En nou vir die lippelek-brokkie: Aston Martin se splinternuwe Vanquish (bo en onder). Vir die prys van ’n duur huis kry jy twee deure, twee sitplekke (of ’n opsionele 2+2-uitleg), aluminium-, magnesium- en glasvesel-bakwerk, ’n 48 klep-; 6 liter-V12 met 11.0:1-kompressie en 416 kW en 620 Nm wat via ’n agtergemonteerde sesgang- Touchtronic-outokas plus ’n beperkte glip-ewenaar agterwiele toe gejaag word – plus die mooiste motorstilering ter wêreld, in die vorm van Aston se visbek-rooster, breë skouers en volmaakte verhoudinge.
Hoeveel jy nodig het om die Vanquish joune te maak? So R4 miljoen, dis al, he-he...