Energie-soldaatjie

2012-09-16 01:08

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Jy kry die soort wat altyd slim wil wees deur agterdog te saai, die soort wat nimmer kan rus alvorens hulle nie eers ’n “storie agter die storie” geïdentifiseer het nie – dikwels via ’n verbeeldingsvlug wat gebore is uit die behoefte om “iets te sien wat ander nie sien nie”, wat sulke mense uiteraard, wel, slim laat lyk.

Of dom – as daai vlug van die verbeelding uitspattig raak.

’n Voorbeeld. Toe Osama bin Laden dood is, was daar hierdie eks-recce-soldaat wat oudergewoonte weer die waarheid met ’n “storie agter die storie” wou rek. “Ek ruik lont,” het hy verklaar. “Waar’s die foto’s van Bin Laden se lyk? Ek sê jou: Die Amerikaners lieg.”

Mmm. Obama verklaar aan die ganse wêreld dat Osama geskiedenis is, maar onse recce weet van beter. Hy verstáán hoe hierdie militêre dinge werk. Hy’t nie verniet 30 jaar gelede in Angola diens gedoen nie, seg hy. Bin Laden leef nog. En hier’s wat gebeur het: Osama het Obama gebel en ’n verbond aangegaan, ’n komplot gesmee.

“Daar’s ’n presidentsverkiesing op pad. Betaal my $40 miljoen en ek verdwyn berge toe, terug na die Tora Bora-grotte, en jy wat Obama is kan die held wees wat ‘Bin Laden doodgemaak het’ – en sodoende jou herverkiesing verseker.”

Anderhalf jaar later en dis verkiesingstyd in die VSA en niemand praat meer oor onse Al Kaïda-terroris nie. Daar’s boonop soveel ander ooglopende gate in die recce se argument, dat almal vir hom lag, almal weet hy’s verkeerd. Maar niemand dit kan bewýs nie.

En Lance Armstrong? Die getuienis stapel soos mieliepitte op ’n miljoen stronke teen hom op: Floyd Landis, Tyler Hamilton, sy voormalige lyf-fisio, sy eertydse fietsmeester...

Maar Armstrong pleit onskuldig. Die teleurstelling is kennelik nie meer dat hy onwettige kikkermiddels gebruik het nie, maar dat hy volhou om te lieg, dat hy verseg om te bieg.

Of is dit die handevol mense wat teen hom getuig wat tjôrts praat? ’n Komplot van die hoogste orde, net omdat die hele spul iets teen Armstrong het?

Kan wees. Maar dis onwaarskynlik. Dit raak dus ’n kwessie van geloof, van siening, van ervaring. Wie se inligting, en watter bronne, vertrou jy? En waar pas jou eie oordeel in die prentjie?

Einste met hibriedtegnologie in die motorwêreld. Dis ’n saak van waardes en oortuiging, ewe veel as wat dit ’n saak van syfers en feite is.

Toyota se nuwe klein Yaris HSD (Hybrid Synergy Drive) dryf byvoorbeeld uit ’n 1.5 liter-petrolbron wat ondersteun word deur ’n batterypak (onder die agtersitplek) plus ’n elektriese motortjie (wat langs die enjin op die vooras monteer). Die petrolbron skop 55?kW uit, ’n syfer wat op die beste van tye, met die elektriese motor se hulp, tot 74 kW styg.

Soos die battery egter die elektriese motor ondersteun, hardloop hy leeg (iets wat ook uiteindelik met jou flits gebeur). Uiteraard vereis die proses dus ’n herhaaldelike herlaaiing van die batterypak, byvoorbeeld deur die benutting van kinetiese energie wat tydens remwerk vrygestel word.

Nou’s daar ook stelsels soos ’n halfhibried en ’n volhibried. Honda se hibriedstelsels is van eersgenoemde soort: Die elektriese motor is net daar om die enjin in tye van ’n sware las (as die kar versnel, of wanneer jy wil verbysteek) ’n hupstootjie te gee. Om dié soort doelwitte te bereik, kan die batterypak en elektriese motortjie klein, lig en goedkoop gehou word.

Toyota se Yaris HSD is egter, nes die Auris en Prius, ’n volhibried, wat beteken dat die karretjie in sekere omstandighede uitsluitlik op elektriese krag kan loop. Dis iets wat net met lae snelhede (soos parkeersnelhede) en ’n ligte enjinlas (as jy stadig wegtrek) sal gebeur.

Feit bly egter dat die Yaris HSD in sulke omstandighede geheel en al sonder sy binnebrand-enjin voortrol; die 1.5 liter tik nie eens teen luierspoed aan nie. Hy’s afgeskakel, soos in morsdood.

En die motor beweeg. Jy kan parkeer. En jy kan tred hou met stadige, stilstaande stadsverkeer.

So, bereken bietjie die petrol wat jy spaar as jy vir die laaste 10 km voor jy by jou werk arriveer feitlik nie ’n druppel brandstof gebruik het nie, aangesien jy bloot op elektriese krag kon vorder.

Uiteinde van die saak, seg Toyota, is dat die Yaris HSD – wat in die orde van 1 150 kg weeg – gemiddeld 3,8 liter/100 km se petrol suip, maar dat stadsverbruik tot 3,1 liter/100 km val. Dít nou in skrille kontras met konvensionele dryfstelsels wat veel meer brandstof tydens stadsverbruik as op die oop pad suip.

Toyota se syfer is ook nie verskriklik onrealisties nie. Eerstens gaan die motor se hibriedtegnologie – gekoppel aan ’n palwissel-transmissiestelsel – iedergeval besparing in’t hand werk, al sou jy die HSD nes enige ander kar bestuur. Maar tweedens sal mense wat ekstra geld bestee om ’n hibried aan te skaf júis probeer om hul uitgawe te regverdig – wat beteken dat hulle die HSD op ’n manier gaan bestuur wat sy besparingspotensiaal maksimaliseer.

Kom ons werk dus op ’n verbruiksyfer van 5 liter/100 km, versus die sowat 7 liter/100 km wat mens, in die wêreld daarbuite, van ’n ekwivalente Yaris sónder HSD kan verwag. Dis ’n besparing van 2 liter/100 km, wat beteken dat jy oor elke 100 000 km in die orde van 2 000 liter petrol, of meer as R22 000, gaan spaar. Ry waarlik versigtig, soos wat HSD-bestuurders geneë sal wees om te doen, en die syfer kan tot R30 000 groei. Nieteenstaande ’n petroltenk wat boonop, in die HSD, ses liter kleiner as die standaard-Yaris se 42 liter is (omdat die HSD-tenk én -batterypak onder die agtersitplek moet inpas) lewer einste syfers ’n HSD-reik­wydte van 720 km, teenoor die standaard-Yaris se 600 km.

Nou kan jy argumenteer dat ’n R50 000-goedkoper kar ewe doeltreffende verbruik kan lewer – byvoorbeeld ’n wa met ’n klein diesel-enjintjie. Goed so. Maar wees gewaarsku: Wat die HSD betref, koop jou ekstra geld nie net gevorderde toekomstegnologie nie, maar top-toerusting ook. Boonop gaan gelyke verbruiksyfers merendeels net op die langpad geld. Boer egter in die stad, dag in en dag uit – sonder dat jou stertvere jeuk om deurentyd vinnig te versnel – en HSD-verbruik gaan selfs ’n klein dieseltjie s’n troef, terwyl jy die voordeel geniet dat jou petrolbron, wanneer hy loop, stiller as ’n dieselbron is, én dat jy in opgeboude omgewings (soos meenthuiskomplekse) geraasbesoedeling toetentaal uitsny.

Dit bring ’n soort vrede in die siel ook, hierdie dinge, plus ’n vergenoegde gevoel dat jy pionier geword het in die strewe om motorry se omgewingslas te verlig.
Teenargumente is natuurlik dat koeie en dies meer erger hoeveelhede CO2 die lug in pomp as karre; dat die motorbedryf ’n maklike teiken vir outokratiese wetgewing is; en, en, en...

Wat alles waar mag wees. Maar geld is nie die enigste maatstaf nie. Hoeveel kos jou hond of kat jou aan kos en veeartse? En hoeveel pitte bring hulle in?

Daar ís mense, miljuisende van hulle, wat – sonder foto’s, sonder sertifikate, sonder onweerlegbare bewyse – aanvaar dat Bin Laden dood is, of dat Lance Armstrong ge-“doup” het.

Net só is daar mense wat glo dat hibriedmotortegnologie ’n eerste stap in die regte rigting is; dat die Yaris HSD as voetsoldaatjie in die energie- en besoedelings-oorlog figureer.

Vir die res is daar diesel-enjintjies en Picanto’s, goed en wel. Vir ander is daar selfs ’n “storie agter die storie” wat beweer dat die hele lot van ons ge-“doup” word, dat hibriedmotors ’n blote geldmaakkomplot tussen vervaardigers is.

En so moet ons dit aanvaar. Want dís hoe die wêreld werk: Jy kry alle soorte...

* Prys – Toyota Yaris 1.5 HSD
XS – R223 800
XR – R245 900


Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 15-20°C Mostly sunny. Mild. Pta: 11-25°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 11-19°C Afternoon clouds. Mild. Bfn: 11-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
Dbn: 19-22°C a few tstorms. Mostly cloudy. Mild. PE: 14-16°C Heavy rain. Mostly cloudy. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!