Etios gee berg se waarde

2012-06-30 14:04

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Ekberg. Onthou jy nog die naam? Sy wat Anita was, saam met Marcello Mastroianni in Rome se Trevi-fontein al daai jare gelede in Fellini se meesterstuk van die Italiaanse filmkuns, La Dolce Vita.
Die Soete Lewe.

Deesdae is sy in haar tagtigs, dié Sweedse seksbom van die jare ’50 en ’60, en so pennieloos en sieklik dat Die Ysberg (soos Ekberg bekend was) by die Fellini-trust aansoek gedoen het vir fooitjies om haar aansienlike groot lyf te voed.

Die Nare Lewe.

Of dan bitter genoeg dat selfs die lag, volgens Eugène Marais se Skoppensboer, nie altyd verligting bring nie: in elke lag ’n sug van pyn, in elke roos ’n dowwe blaar. Van die Grieke het ons reeds geleer: Die lewe anker in tragedie.

Maar daar ís oomblikke van verligting, soos grapjas Bob Hope en einste Anita in Call Me Bwana bewys het, ’n komedie wat in 1963 reeds in Afrika geskiet is – oftewel op die moederkontinent wat eens so ’n prominente deel van die oerkontinent Gondwana was.

Bwana. Baas. Gondwana. Dis Afrika-klanke, ons is bekend met die geskiedenis daarvan – soos dat die hele ou spulletjie toentertyd versplinter het, met ’n landmassa wat hier van Mosambiek se kant af sou wegbreek om noordwaarts te mik. Duisende jare van kontinentale dryf later en einste landmassa bots teen Asië, waarna een tektoniese plaat onder die ander induik en die aarde hemelwaarts skouer om die Himalajas as grens tussen Indië en China te vestig.

Lang storie, is dit nie? Maar gaan kyk nou na Hollywood-moewies of National Geographic-dokumentêre en hier’s die vraag: Kan jy, net deur na die omgewing te kyk – die land, klippe, grond, stof, formasies, plantegroei, bome, grasse, kleure – sê of tonele in Afrika afspeel, of nie?

Gewis. Suid-Amerika het sy eie topografie en vegetasie. So ook Noord-Amerika, Europa, Asië, Oz.

En Afrika.

Maar daar’s een ander streek in die wêreld waarmee jy jou sal misgis: groot dele van Indië lyk nes groot dele van Suider-Afrika. Dis omdat die twee eens een was.

Nou’s Indië nogmaals terug in Afrika. In die omgewing van 80 000 van Toyota se nuwe kompakte Etios-motors word per jaar daar gebou, digby Bangalore in die suide, in sowel sedan- as luikrugvorm. Ditto vir die motortjie se 16 klep-1.5 liter-viersilinder-petrolenjin (66 kW, 132 kW).

En hy ís Indies, gewis, die Etios. Mens sien dit onmiddellik aan sy middelgesentreerde instrumentpaneel met rooi naalde wat in ’n plat boog deur ’n waas van melkerige wit swiep; instrumente kom, kennelik, van dieselfde verskaffer as Tata s’n af. Die Etios spog hoeka met ’n plaaslike Indiese inhoud van omtrent 70%, alhoewel modelle wat vir Suid-Afrika bestem is, reeds op die Indiese boulyn aangepas word met ekstra klankdemping en deurseëls, plus ’n effe meer dinamiese veerinstelling.

Massamark ís hy ook, die Etios. Mens sien dit aan die bonkige voorpaneel, plat materiaalsitplekke, harde plastieke, oudmodiese draaiknoppe vir lugversorging, oop boute op glylopers vir voorstoele en veral klankdigtingsmateriale wat in die voetholte voor die brandskort uitpeul.

Jy hoor dit ook aan windsleur rondom die motor se A-pilare plus die enjin se onverfynde meganiese geraas, veral hier van 4500 toere se kant tot by die rooi lyn net kort voor 6000 toere.

En ja, jy voel dit aan die vae, ligte, dooie elektries-ondersteunde kragstuur, asook ’n bloot funksionele ratkierieskuif, grensend aan knobbeldroog en op die afrat soms hakerig – maar darem met vyf goeie verhoudinge en ’n lang toprat vir die oop pad.

Maar al hierdie dinge is te verwagte, dan nie? Die Etios pas vierkant in die marksegment waar ouer ontwerp, meganika en tegnologie jou boete is, maar minder beursie-aktiwiteit jou wins; ’n bietjie soos blikkieskos wat uit 1994 se paniekdae in jou spens oorgestaan het, maar jare later nog eetbaar is.

Sien die nuwe Toyota dus as opposisie vir die VW Polo Vivo 1.4, Ford Figo 1.4 en Renault Sandero 1.6 (4 020 mm lank versus die Etios se 3 775 mm), eerder as ’n alternatief tot Toyota se eie klein Yaris (wat, snaaks genoeg, teen 3 750 mm omtrent ewe lank as die Etios is, alhoewel mens aan die Yaris as ’n kleiner motor dink, merendeels oor sy ronder hoeke en 3 615 mm-korte lyfie van die eerste modelreeks).

Neem ook in ag dat die Etios, teen omtrent 900 kg, meer as ’n 100 kg ligter as die Yaris weeg, wat die ouer-tegnologie-enjin (wat gemiddeld 6 liter/100 km suip) bemagtig om min of meer dieselfde reikwydte uit 45 liter as die Yaris se 42 liter-tenk te tap.

Alom-sig is ook goed, die Xs-afwerkingsvlak bied materiaal op voordeure se armstutte (sodat die elmboë nie op die lang pad seer raak nie), die Etios draai skerp en wat verras is hoe sterk hy (met behulp van ABS en EBD as standaard; skywe voor, trommels agter) kan rem; die ligte lyfie – wat nogals ’n volgrootte spaarwiel dra – help natuurlik. Lugsakke is daar dwarsdeur die reeks twee voorstes van. En agterlangs is daar goeie kop- en beenruimte, maar dis veral die in- en uitklim wat maklik gemaak word deur ’n hoë sitplek, ’n lae deurdrumpel en goeie plasing van die B-pilaar; mens se voet glip maklik verby die hindernis.

Stoorplek is, veral in die groot poeierkassie, redelik (die deursakke hou veel meer as die Corolla se dun sakke), maar die laaibak is beperk.

Hantering is uit die aard van die sak nie opwindend nie, maar veral vir ’n motortjie wat op hoë 65-profiel-bande ry (Bridgestones, nogals!) hou die Etios sy lyn verbasend goed; daar’s min tekens van die soort stuurtraagheid wat mens in goedkoop voorwielgedrewe motors sou verwag.

Gegee al daai rubber tussen wielvellings en die pad, en goeie ritgehalte is – ten spyte van ’n agterste wringbalk – ook ’n Etios-kenmerk.

Gooi alles bymekaar, en die Etios bevind homself op daai breë koord wat so in die middel van die lewe deur loop: nie soet nie, nie bitter of naar nie, nie La Dolce Vita nie, nie Skoppensboer nie. Daar’s min ware hoogtepunte waaroor mens hardop kan lag; ’n roos sou jy nooit as Etios-embleem kies nie. En daar ís dinge om oor te sug, daar ís dowwe blare.

Maar as ’n goedkoop Toyota-produk is die pakket omtrent wat mens kan verwag: die Etios span ouerige, massagerigte ontwerp en tegnologie in, maar bied, vir sy doeleindes, goeie ruimte, heelwat toerusting (sonder klank), stewige bouwerk, ’n lekker rit, verbasende wakker verrigting, en, tipies Toyota, betroubare meganika. Soos Toyotas van ouds, is die Etios – eindelik ten laas – ook pryspas.

’n Ekberg-seksbom, dan? Nooit. Maar Call Me Bwana klink omtrent reg.

* Pryse – Etios-luikrug:
1.5Xi – R115 800
1.5Xs – R120 900

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 14-20°C Sunny. Mild. Pta: 7-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-17°C Sunny. Mild. Bfn: 0-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-24°C Partly cloudy. Mild. PE: 14-18°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Audit Manager

Western Cape
SET Recruitment Consultants
R450 000 - R550 000 Per Year

Software Engineer

Gauteng
Pinagare Human Capital Specialists
R250 000 - R350 000 Per Year

Mail and Archiving Sales Specialst

Gauteng
Diversity Recruitment

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!