Grondverskuiwend
2010-02-20 12:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Oukei, hier’s hoe dit werk:
Gordon Wagoner is grootbaas van die Benz-ontwerp. Dít na ’n stewige termyn as hoofindoena by Merc se gevorderde-ontwerp-ateljee in Kalifornië. Wagoner se plek is deur Joel Piaskowski ingeneem. Merc het Piaskowski by Hyundai gaan werf.
’Skuus tog, sê weer?
By Hyundai?
Dis ’n groot sprong, dan nie – van ’n vaal, vervelige massaproduserende motormaatskappy wat goedkoop dink en doen tot midde-in die wêreld se eksklusiefste ontwerp-ateljee wat die driepuntster se toekoms stileer?
Inderdaad, ja; dit ís ’n groot sprong – as jy nog aan die idee klou dat Hyundai-Kia op die oorkantste wal van die Grand Canyon-gaping tussen Merc en massamotors staan.
Nie so nie. Sewe jaar gelede al het Autocar se Chris Harris Hyundai se 2.7?liter-V6 besing: “Fyner en gladder as Merc se V6.”
Einste ons slotsom, toentertyd – wat minder lagwekkend raak as jy rekening hou met die blanko tjek wat Tsjoeng Mong-koo in 1999 aan sy ingenieurs gegee het om die wêreld se beste enjins te ontwikkel. Die omstrede Mong-koo is die seun van die Hyundai-stigter, Tsjoeng Joe-joeng.
Sy resep vir goeie kragbronne is besig om vrugte af te werp.
Gaan ry bietjie Hyundai se nuwe, klein i20 en voel hoe sy onaangejaagde 1.6 liter-viersilindertjie 91?kW losskoffel! Inderdaad verrig die i20 se 1.4-liter amper op die Polo 1.6?liter-vlak.
Verlede jaar het Hyundai se 4.6?liter-V8 – oftewel die maatskappy se Tau-enjin – die eerste Koreaanse bron geword wat Ward’s Auto World se “tien beste enjins van die jaar” haal. Einste enjin, wat 280 kW en 451 Nm in Hyundai se Genesis-weeldemotor en spoggerige nuwe Equus-vlagskip loswoel, verbruik steeds minder as 9.5 liter/100 km en het vanjaar nogmaals Ward’s se prestige-lys gehaal, die enigste V8 wat dit kon doen.
Dis te begrype, te oordeel aan hoe satynglad die 2.7?liter-Beta-V6 destyds al was. En om te dink dat einste V6 nou tegnies deur Hyundai se 2.4?liter-Theta-II-viersilinder vervang gaan word, ’n enjin wat Motor-Rapport pas in twee nuwe modelle ervaar het: Die Sonata en Tucson – met laasgenoemde wat in Suid-Afrika as die ix35 bekend sal staan.
Die Tucson ken ons natuurlik goed. Die nuwe een – oftewel die ix35 (waarvan vierwieldryf in die ry via ’n voorpaneelknoppie aan- en afgeskakel word) – is treffend mooi en ordentlik weelderig.
Maar teen 170?mm het sy grondvryhoogte met 20?mm gesak; die ix35 is meer stadsjapie en minder boendoeboelie as die Tucson.
Die Sonata, waarvan Hyundai ’n kwartmiljoen per jaar bou, is sedert sy markbekendstelling ’n kwarteeu gelede reeds Korea se topverkoper. Anders as die Japanners stel Koreane, as ’n kopers-nasie, nie in klein motortjies belang nie; die i10, i20 en Atos word eksklusief in Indië gebou.
Die Sonata is dus hul eerste keuse en die nuwe een gaan ’n wegholsukses wees, ook in Amerika. Die 2.4-liter (wat einste met 132 kW en 226 Nm in die ix35 diens doen) is dalk effe papper as die Honda Accord se 2.4-liter (148 kW, 234 Nm), maar ondanks ’n bietjie stres bo 5?000 toere selfs gladder.
Verbruik is ook prima.
Hyundai, om die waarheid te sê, word deur Amerika se omgewingsbeskermingsagentskap as die brandstofdoeltreffendste motorvervaardiger in Amerika beskou.
Die ster van die Sonata- en die ix35-dryflyne is egter die sake-onderneming se indrukwekkende nuwe sesgang-outokas. Die skuiwe is vinnig en waarlik soomloos. En dis g’n ’n ZF- of Aisin-kas wat, soos van ouds, van buite aangekoop word nie.
Nee. Dis ’n segmentkleinste en -ligste nuweling wat binnenshuis deur Hyundai ontwerp en gebou word. Ditto vir die agtgang-outokas wat weldra in die Genesis en Equus buig. Saam met Mercedes – daar’s daai naam weer – is Hyundai dus nou een van net twee motorvervaardigers wat hul eie ratkaste bou. En saam met Tata is Hyundai een van net twee wat hul eie staal in meer as 50 verskillende soorte vir die motorbedryf voorberei.
Ter verwesenliking van sy selfverskaffingsdroom besit Hyundai selfs ’n kruisaandeel in Mobis, sy verskaffer van plastiek en modules soos voorpanele.
Indrukwekkend – veral as die eindproduk so goed soos die Sonata en ix35 se verfynde sesgang-kas (met ratspane agter die sedan se stuurwiel) is.
Einste wat die kajuit betref.
Waar dit voorheen ’n Hyundai-swak punt was, is dit nou ’n sterk punt. Die Sonata- en ix35-voorpanele word energiek aangebied met sterk, flambojante lyne wat byvoorbeeld uit verskillende punte op die Sonata se tonnel- en middelkonsole ontspring, waarna dit tot in die deurpanele oopwaaier. Kraglyne op die sedan se enjinkap word selfs na die bokant van die voorpaneel deurgetrek (en, in ’n baldadige vertoon van pizzêz, ook deur gepunte riffels in die sierrooster opgetel).
Maar, raai wat? In die algemeen spog die Sonata met ’n aantrekliker en beter kajuit as die Benz?C-klas of BMW?3-reeks.
Vir die geld wat jy betaal, is die toerusting eweneens puik.
Daarby lyk die Sonata (wat laat April hier buig) veel mooier in metaal as op foto’s. Want kyk, die driekwart-van-agter-aansig herinner aan Merc se CLS en die Passat CC se koepee-rûe, maar met mooier verhoudings en beter balans. Met twee sondakke – een voor, een agter – kan die Koreaan se elegante en sportiewe koepeldak dalk ’n fraksie te min kopruimte agterlangs vir langerate laat, maar die beenruimte is uitstekend.
Die treffendste stileringskenmerk bly egter ’n sterk tornado-lyn wat – nogmaals à la Benz – die Sonata se sykante met ’n swiepende wig bedeel.
Die treffendste boukenmerk is die paneelgapings. Die kattebak s’n, byvoorbeeld, is minstens ’n millimeter nouer as – mmmm?… ’n Merc s’n.
Die ix35 is ewe indrukwekkend in ontwerp- en bougehalte. Ons sal later meer oor hom skryf, maar moenie te ontsteld oor die 2.4 liter-bron se relatiewe lae enjinkrag raak nie. Die reeks gaan einde April ook met ’n wakker 2.0 liter-viersilinder (124 kW, 197?Nm) en ’n waarlik gespierde 2.0?liter-diesel (137 kW, 392 Nm) op onse oewers buig – almal met uitstekende waarborge en versienplanne. Hyundai werk ook aan ’n sterk 2.4 GDI (gasoline direct in-jection) en ’n 2.0 GDI-turbo met 200 kW; een derde meer as die Golf GTI se 2.0 liter-turbo-krag!
Met die gebruik van litium-polimeer pleks van nikkel-metaalhidraad of selfs litium-ioon, is Hyundai ook aan die spits van hibried-batterytegnologie.
Indrukwekkend, is dit nie?
Inderdaad. Maar hoe’s dit moontlik?
Dat Merc-stileerders by Hyundai gaan soek, pleks van andersom? Is dit inderdaad soos dinge deesdae werk?
As die naam Hieondae Jadongtsja Joesik-hoesa (oftewel Hyundai) is, ja. Daar’s ’n fundamentele grondverskuiwing in die motorbedryf aan?’t kom. Toyota het veel groter hoofpyn as net versnellers wat vashaak.
* DIE SONATA 2.4 GLS BUIG VROEG MEI IN SUID-AFRIKA; DIE IX35 EINDE APRIL. DIE PRYSE IS NOG ONBEKEND.
- Rapport