Kan ek aan jou rat vat?

2013-02-02 23:24

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Aah, die ratkas.

Dis snaaks hoeveel hierdie enkele instrument jou van ’n voertuig kan vertel en meer spesifiek dalk van die visie, denke en ambisie ágter daai voertuig.

Dis ook interessant om te sien hoeveel ’n goeie handkas se skuifgevoel tot ’n bevredigende motorervaring bydra, al of sy werking die soete nektar word van vele meganiese bye wat om hom zoem.

Min dinge kan dus Jan Smuts se Holism and Evolution so maklik tot oorbodige leeswerk verdoem as ’n korf – of kas – vol warm heuning wat koning oor ’n kar se kraglewering kraai deur koers aan sy kragfunksies te gee.
Dit ís ’n holistiese ervaring; dit ís gemeganiseerde evolusie.

Jy voel dit in ’n enkele kierieskuif; jy ervaar dit in elke wisseling.

Die nuwe Toyota Auris se sesgangkieliebak dan, ons kom aanstons by hom.

Maar eers ’n staaltjie: In die laat ’80’s het Alain Prost, hy wat Ayrton Senna se grootste pyn op die F1-planeet was, per geleentheid getol. Dit was nou wel tydens ’n oefensessie, maar Eddie Cheever, as ek reg onthou, het die kuipe binnegestorm en uitasem geskreeu: “Maak ’n aantekening! Prost het op so-en-so ’n minuut op so-en-so ’n dag getol!”

Wel, maak ’n aantekening: Toyota het in 2012 van die windstiltestreek teruggekeer.

Eerstens het die maatskappy sy topstatus in die wêreldwye motorhandel herwin deur 9,75 miljoen voertuie te verkoop (sy minimotornaam, Daihatsu, weeldenaam, Lexus, asook Hino-trokke, ingesluit).

Tweedens het Toyota vriend en vyand verras deur die drywersmotor van die jaar te bou.

Sy naam is 86 (agt-ses) en dis die beste alleman-sportwiele sedert Honda se legendariese S2000 en dalk ’n Franse blitsbuks of twee.

Derdens het Toyota se nuwe Auris gebuig. Goed, die kalender het sedertdien al een syfertjie aangeskuif; op onse bodem is die Auris vanjaar se kind, maar hy het Japan al ses maande gelede getref. En van die jaar 2012 is hy een van Toyota se uitroeptekens – onder meer oor daai ratkas.

Maar kan dit nou wraggies so ’n groot verskil maak, een enkele meganiese komponent?

Wel, vat nou Kia se kleine Picanto, die oulikste pikkie sedert Mannetjies Roux kepe deur die verdediging gekerf het. Die Picanto kan eenvoudig nie sulke bresse slaan nie; sy stuur is te vaag. Gelukkig vir Kia is dié pakket se goeie appeltjies so geurig dat dit die enkele vrottetjie verdwerg. Maar die Picanto se ruggraatlose stuur hinder deurgaans; die Rio s’n mik byvoorbeeld veel beter.

Ons tweede verwysing is die goedkoop handratkas wat sy bes doen om Nissan se Juke te kelder. Hy’s droog, krapperig en stokkerig, nes dit eens op ’n tyd die geval met Camrys en Corollas was.

Nie meer nie. Vir die eerste keer spog Toyota, in die nuwe Auris, met ’n kas – en dus kierieskuiwe – wat waarlik vlesig en vol en soepel voel, terwyl die kierie terselfdertyd met ’n soliede, meganiese akkuraatheid aankap.

Tegniese verbetering is evolusionêr; die kas is ’n verfyning van die vorige Auris en Corolla s’n; steeds met ’n effens hakerige skuif tussen vierde en vyfde.

Maar die eindresultaat is, vir Toyota, feitlik revolusionêr.

Maak dus ’n aantekening. En sommer nog een oor die motor se algemene meganiese verfyndheid. Op Johannesburgse hoogtes bo seevlak (waar laas week se plaaslike bekendstelling plaasgevind het) trek die gevorderde, maar onaangejaagde 1,6 liter-viersilinder – wat drie jaar gelede gebuig het – nie met besonderse oemf nie, al is sy pieksyfers ’n klasleidende 97 kW en 160 Nm.

Tog sorg Valvematic-tegnologie (veranderlike kleptye én kleplig) vir egalige kraglewering deur die volle toerstrek, asook verbruik van net 6,1 liter/100 km in ’n volsiklus. Die klankbaan sprankel boonop met ’n lewendige knetter.

Op laas week se reguit bekendstellingspaaie was daar nie kans om die 1,6-liter se palwisselende CVT-transmissie, die 1,3?liter-model (73 kW; 128 Nm; 5,8 liter/100 km) óf Auris-hantering te toets nie, maar die verwagting is dat die nuweling op die oue se verrassend aanvaarbare indraai sal voortbou.

Of die stert nog effens na buite pik as jy skielik in’t middel van ’n draai van die versneller lig, sal ons nog uitvind; die motor se asafstand en wielspoor is onveranderd.

Met 55 mm wat uit die dakhoogte gesny is, het die Auris in een sprong van die hoogste na die laagste van alle groot spelers in die C-segment gevorder.

Die ritgehalte is oudergewoonte goed. Die modelle wat plaaslik bemark word, ry op dieselfde veertegnologie en -geometrie as tevore: ’n agterbalk-as vir die 1,3- en 1,6-liters en ’n veelskakel-agteras vir die hibriedmodel (wat aanstons opdaag) om die batterypak onder die agtersitplek se ekstra gewig te kan hanteer. In nog ’n evolusionêre stap is dempratio’s, busse en dies meer vernuwe.

Toyotas spog met goeie veergevoel en anders as vele ander motorvervaardigers het dié maatskappy nie ’n obsessie met lae bandprofiele nie.

Die Kia Soul, as voorbeeld, ry op ’n plat 45-rubberprofiel. Dit lyk sexy, maar lewer ’n stamperige rit op Suid-Afrika se swak padoppervlak. Die Auris 1.6, daarenteen, ry op ’n redelik hoë 55-profiel, wat help om padskokke te absorbeer.

Die elektries-gesteunde kragstuur spog met vloeiende, egalige lading en gewig. Van al die massaproduserende motormaatskappye het Toyota en Volkswagen die tegnologie en logaritmes van EPS (“electric power steering”) gouer en beter as enige ander onder die knie gekry. Albei konglomerate het natuurlik ’n luuksemotor-afdeling (Lexus en Audi, onderskeidelik) waar gevorderde navorsing aan die orde van die dag is, hoewel Audi se Dynamic Steering (met verskillende gewigsinstellings) tot dusver teleurgestel het.

Ditto omtrent aspekte van die nuwe Auris; daar ís negatiewes.

Die regaf voorpaneel (met sportiewe ondertone wat van die 86 stam) kom uit de oude doos en pas geensins by die bakwerk se moderne voorkoms nie. Laasgenoemde spog selfs hier en daar met ’n paar Alfa-trekke.

Selfs met leerbedekking vertoon einste voorpaneel soos ’n rotswand waarteen jy jou te pletter kan bots. Wat voorts pla, is die effens onnette plasing van drukknoppe; boonop van wisselende grootte en ontwerp of dit van verskillende tydvakke oorgedra is.

Tweedens is die instrumentpaneel se glasskerm op so ’n hoek dat inligting onleesbaar raak as die son die bokant van die stuurkolom tref en op die skerm weerkaats; wat in Suid-Afrika redelik dikwels gaan gebeur. Die voorpaneel is ’n vaal kol wat Toyota mettertyd moet opkikker; die leesbaarheidsprobleem vereis dringende aandag.

So, maak dus ’n aantekening van Jan Smuts se boek, Toyota: Evolusie het holisme as teiken en daar’s inderdaad ’n paar skurwe puntjies aan die Auris-legkaart wat pres. Akio Toyoda met sy onblusbare entoesiasme vir wiele nog moet skaaf.

Die res is presies waar dit wil wees. Die nuwe Auris het genoeg ammunisie – gerugsteun deur goeie pryse plus ’n stewige waarborg en infrastruktuur – om teen besonder sterk teenstanders te kan skiet (die nuwe Golf VII, Hyundai i30, Honda Civic, Ford Focus, Chevy Cruze, Renault Mégane, Peugeot 308 en Opel Astra).

Inderdaad het Tokio se evolusionêre ontwikkelingsfilosofie ’n nuwe rat met die Auris gehaak.

En wat ’n soete skuif is dit nie!

Pryse: Toyota Auris

1.3 X – R195 000
1.6 Xi – R217 500
1.6 XS – R228 600
1.6 XR – R253 200
1.6 XR CVT – R265 600

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-19°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 3-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-25°C Sunny. Mild. PE: 15-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!