Multicab yslike waarde vir geld
2012-01-28 13:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Eers was daar Hyundai se H1-bus, genaamd die H1 Bus – ’n ou grote vir
gesinne, toer-operateurs en enigiemand wat meer as vier mense plus hul
bagasie met gemak wou vervoer.
Toe was daar die H1-paneelwa, genaamd die H1 Panel Van, met sy tamaai laaibuik.
En dís mos hoe vervaardigers hul voertuigname moet kies, dan nie? H1 Bus
en H1 Panel Van sê, nes Hyundai Bakkie, presies waarmee jy te doene
het.
Nou’s daar die H1 Multicab, beskikbaar in twee weergawes: ’n 2,4-petrol
(126 kW teen 6?000 r/min.; 227 Nm teen 4?200 r/min.; topspoed 182 km/h;
0-100 km/ h in 17,9 sek.) wat via ’n vyfgang-handrat na die agterwiele
dryf en ’n 2.5 VGTi-turbodiesel (125 kW teen 3?800; 392 Nm teen 2?000;
180 km/h, 14,9 sek. van 0-100) met ’n vyfgang- outo wat uiteraard ook na
die agterwiele dryf.
Ons het die petrolweergawe nog nie gery nie, maar die diesel is een van
Motor-Rapport se gunstelingvoertuie op dese planeet. Mens gly letterlik
op ’n golf van lae-toer-wring deur die dorp of stad; jy raak so hier en
daar aan die versneller en origens is dit of die H1 vanself ry, sonder
enige aansporing.
Nog ’n lekker eienskap is die stuur met hidrouliese kraghulp. Die H1
draai betreklik skerp en daar’s tamaai syspieëls en ordentlike
agtervensters sodat mens te alle tye te weet wat agter jou aangaan.
Die Multicab spog ook met heelwat bêreplek vir alles en nog wat, asook
kragvensters, lugversorging, ’n ritrekenaar, MP3/USB/iPod-klank, ’n
sentrale sluitstelsel, kinderslotte in die agterdeure en ’n immo/alarm.
En wil jy iets groot vervoer? Of gaan kamp? Of ’n vrag vol goed vir die vakansie saampiekel?
Wat van ’n laaibuik van 2 500 liter?
Sal dit genoeg wees?
En sal die stert se oopswaaideure of die kante se glydeure jou help om maklik te pak of in en uit te klim?
Daarbenewens kan jy drie mense in die voorste ry inpak, plus drie in die
tweede ry. Die stuurwielhoogte kan verstel word, asook die bestuurder
se sitplekhoogte.
Wat veiligheid betref rem die H1 via ’n ABS-stelsel plus skywe op al
vier wiele (voor geventileerd) en die buitenste twee van die voorry se
drie passasiers het lugsakke. Die dieselmodel word ook met ’n
ESP-stabiliteitsprogram toegerus.
Die laairuim – wat met ses stewige pakhegpunte spog – word boonop met ’n
afskorting (waarvan die boonste deel van glas is sodat “toesig” oor jou
vrag kan hou) van die passasierskajuit geskei.
Die Multicab se bladveerstelsel kan 1,1 t dra en 1 500 kg (gerem) of 750 kg (ongerem) sleep.
En dan die uitklophou: ’n Fabriekwaarborg, asook ’n padbystandsplan van 5
jaar/ 150?000 km; versieningsintervalle van 15 000 km vir albei
modelle; en ’n waarde-vir-geld-prys vir albei.
Pryse: Hyundai H1 Multicab 2.4 CVVT (petrol): R279 900;
2.5 VGTi (diesel): R339 900