Nou vir grote, manne
2011-12-03 14:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Daar’s twee wedrenne, hier.
En die eerste een is so belangrik as die tweede, die hoofren, die Dakar, wat op 1 Januarie in die Argentynse kusdorp Mar del Plata begin en op 15 Januarie in Lima, Peru, eindig.
Dáái een, die Dakar-woestynren, is by verre die wêreld se taaiste en moordendste toets van man en masjien. Suid-Afrika se eie renlegende, Giniel de Villiers, het natuurlik al in 2009 gewen, in die Dakar. Toentertyd het hy in ’n Volkswagen Touareg gesit, met die navigator Dirk von Zitzewitz langs hom.
Vanjaar vorm hulle nogmaals ’n gedugte span, maar dié keer is hulle in ’n Toyota Hilux vasgegespe.
Dis die helfte van die goeie nuus.
Die ander helfte kom in die vorm van Duncan Vos, ’n viermalige Suid-Afrikaanse veldrenkampioen; met die voertuigspesialis Rob Howie as sy navigator. Vos en Howie sal Imperial Toyota se tweede Hilux beman.
Oor die Dakar kan mens nie uitgepraat raak nie. Vanjaar se ren woed oor ’n afstand van 9000 km in Argentinië, Chile en Peru.
So een derde die ren in sal die manne die Andes-gebergte op ’n hoogte van 4800 m bo seevlak kruis. Die jagery sal tot by 3500 m bo seevlak plaasvind. Dis wanneer voertuie – en mense – swaar begin asemhaal; 3,5 km bo seevlak is drie-en-’n-half keer hoër as Tafelberg en meer as twee maal hoër as Johannesburg.
Sommige ouens, vertel De Villiers, raak selfs naar en siek. Selfs De Villiers het per geleentheid met ’n hoofpyn van die hel gesukkel toe hulle anderkant die Andes begin afsak.
By tye is die kajuittemperatuur ook ondraaglik, in die orde van 60º C en hoër; De Villiers het al 70º beleef. Of, sal mens sê: oorleef. Vir dié doel het die manne spesiale oorpakke.
En dít terwyl mens nie durf om ’n enkele onnodige sekonde agter die stuur te vermors nie. Dís dan ook Vos, wat pas 50 jaar oud geword het, se grootste uitdaging: net om die Dakar te voltooi, seg hy. Lees die terrein reg; moenie onnodige kanse vat of die voertuig breek nie.
Vos is blitsig, maar hy kort Dakar-ervaring. De Villiers spog met albei; hy’s weerlig, selfs in ’n bakkie in dik sand, maar hy ken die geheime en uitdagings; hy lees gevare soos ’n boek.
En komkommerkoel is De Villiers.
Fiks ook, soos môre heeldag; kyk bietjie op die foto hiernaas hoe hy ’n bergfiets maal. Swem is ook deel van die regime, en draf en dieet en en en…
Hoe Toyota Imperial se Hiluxe gaan vaar?
Dis waar die eerste ren, die voorbereiding, so ’n groot rol speel. Die besluit om Dakar te pak is einde-Augustus, op die nippertjie, geneem. Dit het Glyn Hall, spanbestuurder, met bitter min tyd gelaat om ordentlik te kan beplan. Die bakkies is volgens Dakar-spesifikasies gebou en vir ’n driedagtoets Namibië toe geneem.
Spesialiste is teen yslike koste van Europa ingevlieg, spesifiek om die enjinprogrammatuur en veer-en-dempstellings te verfyn. En daar’s aktiwiteite agter die skerms wat vir die duur van die ren sal aanhou soos die topografiese spesialis in Ierland wat elke aand dwarsdeur die nag vir De Villiers-hulle gaan kaarte lees om die beste roetes vir die volgende dag te vind.
Al dié dinge kos tyd, maar veral geld. Die beste spanne het ’n begroting van tot R500?miljoen; Imperial Toyota ding met ’n fraksie daarvan mee. ’n Fraksie.
Maar ’n Hilux is ’n Hilux. En De Villiers is De Villiers. En Vos is Vos. Sterkte, manne! Die eerste ren, die voorbereiding, is verby. Nou vir die grote, die Dakar. Vat hom!