Pure plesier
2010-08-28 17:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Daar is twee maniere om na die “sakie” te kyk.
Een: Blydskap, want jy het pas R479 000 gespaar omdat al 60 Focus RS’e wat Suid-Afrika beskore is, reeds verkoop is.
Twee: Hartseer, want (indien jy die geld gehad het) jy het die kans misgeloop om een van die wonderlikste verrigtingswaens op die planeet aan te skaf.
Ek is hartseer.
Selfs die oorblywende klompie van die 60 wat nog iewers op ’n skip onderweg na Suider-Afrika is, is reeds verkoop. En nog hartseerder is dat Ford nie nog voorraad kan kry nie. Dit is die laaste RS’e wat gemaak is. Die nuwe Ford Focus maak in die tweede helfte van volgende jaar sy opwagting en ’n nuwe RS sal eers oor baie jare ’n werklikheid word.
RS is natuurlik vir Ford wat M vir BMW, AMG vir Merc, RS… hmm… vir Audi en OPC vir Opel is, om enkeles te noem.
Dit staan vir Rallye Sport en is die afdeling van Ford Europa wat na die blou ovaal se motorsport- en veral tydrenprogramme omsien. Dit is ook die einste mense wat die wonder-vering van die RS ontwerp het waaroor ons nou-nou meer sal sê.
So, op die oog af is dit maklik om te sê die RS is net ’n ge-chipte weergawe van die Ford Focus ST, aangesien hulle dieselfde kragbron en bakwerk deel.
Die kragbron is natuurlik ’n Volvo 2,5 liter-enjin met vyf silinders en ’n turbo-aanjaer.
Nie so eenvoudig nie. Glad nie so eenvoudig nie.
Onder die bekwame leiding van Jost Capito, Ford se direkteur van verrigtingsvoertuie wêreldwyd, is besluit om ’n verrigtingswa sonder weerga in dié klas te bou. Om bloot ’n ST aan te pas sou nie voldoende wees nie, hoewel die ST ’n stewige basis bied waarop die nuweling gegrond is.
Die enjin moes meer woema kry, steeds betroubaar wees en steeds geskik wees vir alledaagse rywerk.
Die RS-enjin is basies net dieselfde blok as die ST s’n, maar die binnegoed is nuut – van die beste en duurste wat die kilowatts by die kragbron laat uitborrel. Ook die turbo-aanjaer is groter, met byna dubbel soveel druk as die ST s’n.
Die resultaat is 224 kW (166 kW vir die ST), wat van hom die kragtigste voorwielaangedrewe produksiemotor maak wat beskikbaar is. En die wringkragsyfer is 440 Nm (320 Nm vir die ST).
Duidelik dus dat dié ’n ander bulperd as die ST is. Soveel krag op ’n voorwielaangedrewe voertuig beteken net een ding: Met ’n vinnige wegtrekslag gaan jy die stopteken of verkeerslig langs jou omstamp, of deur te vinnig op die petrol te klim in of uit ’n draai gaan jy nie eindig waar jy beplan het nie.
Wringstuur by kragtige, voorwielaangedrewe rygoed is byna soos ’n ongeneeslike siekte. Dit het te doen met natuurwette en met meganiese ontwerp wat nie verder kan nie.
Ford se slim mense het besluit om van die ST se McPherson-tipe vering ontslae te raak en te vervang deur ’n stelsel wat hy nou gepatenteer het, genaamd RevoKnuckle. ’n Bydrae uit Ford se WRC-program.
In wese kom dit daarop neer dat van die voorvering-elemente verdeel word om onafhanklik van mekaar te funksioneer ten einde die kragte te beperk wat op die stuur en wiele inwerk wanneer die enjinkrag losgelaat word. Die kritieke afstand (king pin offset) tussen die middelpunt van die wiele en die lyn waarteen dit van die stuurmeganisme werk, word verklein. O ja, voeg ook 40 mm wyer spoor en die 19 dm.-wiele by wat aanvanklik nie goed vir wringstuur is nie, maar danksy die slim vering nie daartoe bydra nie.
Nou, werk dié spulletjie?
Beslis, en die Zwartkops-renbaan se kort en skerp draaie is die ideale plek om te kyk wat gebeur as jy uit die draai versnel.
Dis een van die plekke waar wringstuur die stuur in ’n rigting dwing wat jy nie noodwendig beplan het nie. Dit is verstommend dat die wringkrag so goed geharnas is en die krag so egalig sy weg van die wiele na die teer vind.
Goed, deesdae doen vervaardigers baie en wringstuur is nie meer so ’n nagmerrie soos ’n klompie jare gelede nie. Tog praat ons hier van 224 kW en 440 Nm wat teoreties vir ’n wringstuurnagmerrie behoort te sorg.
Jip, dis nie geheel en al weg nie, maar so onopvallend.
Die stuur voel aanvanklik effens lig, maar raak direk en betreklik akkuraat wanneer jy die krane oopdraai.
Ongelukkig het ons nie die kans gehad om met die Focus RS op ons gewone slaggatbesmette paaie te ry nie, maar om die baan het die ritgehalte nie onaardig gevoel nie. Die RS kom heel beskaafd voor. Amper soos ’n wolf in skaapsklere, as ek die uitdrukking so losserig mag gebruik.
In die RS sal dit jou net 5,9 sek. neem om by 100 km/h uit te kom (teenoor die ST se 6,9) en sy stoom raak eers teen 263 km/h op. Dán het jy al jou punte vir jou lisensie, jou vrou s’n en jou buurman s’n verloor – as hulle jou teen daai spoed betrap.
Die RS is nie ’n blitsbuks nie.
Vir die jongelinge wat so sukkel met Afrikaans, dit is nou ’n “hot hatch”. Hy is die RS nie. Hy is meer van ’n straatwettige renmotor wat nie net soos ’n pyl uit ’n boog vorentoe kan skiet nie, maar kan swenk en systap soos, wel, sommige rugbyspelers.
Niemand het gesê die prys van pret en plesier gaan net ’n paar sent wees nie.
- Rapport