Spookagtig
2010-03-06 14:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Groot Knal, dan. Dis hoe alles begin het, seg wetenskaplikes. In millisekondes het ’n diggepakte kern van materie tot tyd en ruimte ontplof.
En toe?
Wel, nou nog is dinge besig om uitmekaar te spat. Ons is kwalik bewus daarvan; die kragte wat die beweging van hemelliggame beheer, het lankal ritme gevind. Die geweldgrafiek van daai eerste paar oomblikke het tot ’n reguit lyn afgeplat.
Behalwe as daar beweging is. Jaag bietjie met ’n mouterkar en luister hoe sy enjin stoei, sy hoeke en punte suis en sy vering met padhobbels baklei.
Mercedes pak hierdie probleem aan deur motors te bou wat insittendes van hul omgewing isoleer. ’n Benz kan jou amper laat glo dat jy sweef.
Einste geweldgrafiek wat egter tydens die Groot Knal soos Kilimandjaro die lug ingesteier het voor dit oor miljoene jare sou afplat en reguit trek, einste grafiek toon steeds riffels as jy met ’n Benz ry. Jy hoor tóg nog dinge; jy voel tóg nog stampies.
Nie in ’n Rolls-Royce nie.
Dit het ons onlangs weer tydens die wêreldbekendstelling van die vervaardiger se nuwe Ghost in Kalifornië ervaar. Rapport was boonop die enigste publikasie wat ’n vergelykende rit in die vervaardiger se spogskip, die Phantom, kon losslaan.
Noem hom die moederskip. Groter as enorm, en waarlik kragtig en vinnig; ’n ruimtetuig wat van klas en kultuur oorloop.
En dís die ding: kajuitstemming. Dis ’n koninklike vrede en rustigheid wat uit die Phantom se eenvoud, weelde en fenomenale goeie rit gebore word.
Neem byvoorbeeld ’n grafstille aand in die veraf Karoo, met die sterretrans wat – argumentshalwe – in ’n tempo van 80 of 100 of 120?km/h verbygly. Jy kon net so wel in ’n Phantom gesit het. Vanuit sy kajuit is daar geen kontak met herkenbare vervoerbakens soos die grond, bande, wiele, veerkomponente, enjingeraas, uitlaatklanke of windgesuis nie.
Niks.
Jy sweef.
En nou wil jy die wêreld daarbuite ’n bietjie vinniger laat verbyskuif, sonder om jou towertapytrit of troon-verskansde status prys te gee. Die Phantom, vinnig soos hy is, is te stadig.
Hark die Ghost nader. Maar oppas! Goodwood se effe afgeskaalde “intree-model” – wat “maar net” 5,4 m lank is – kan by jou spook; in opsigte is hy selfs beter as die Phantom.
Soos in haastiger, wakkerder en ratser. Meen te sê, dat ons hier van ’n 2,3 ton-staalmonster praat wat die 0-100 km/h-lopie in 4.7 sekondes verpletter.
Dis Porsche- en M3-terrein!
’n Supergladde agtgang-ZF-outokas met ’n enorme sterk 4.7:1-eerste-rat-verhouding (teenoor die Phantom se sesgang-outo) help natuurlik. En waar die aluminium-Phantom se 6.75 liter-afgeleide van BMW se V12-enjin met 48 kleppe en direkte petrol-inspuiting onaangejaag is, vind die Ghost se 6.6 liter-weergawe baat by dieselfde basiese Münchense V12 (met ’n onderdeel-gemeenskaplikheid van net 20%) met twee Garrett-turbo’s wat kragsyfers na ’n reusagtige 420 kW en 780 Nm opstoot versus ouboet se 338 kW en 720 Nm.
Voeg hierby die feit dat die Ghost die beste deel van ’n halfmeter korter, 200 kg ligter en ’n halwe plaas goedkoper as die Phantom is, en kleinboet mik na ’n wyer teiken; effe jonger en meer sportiewe kopers (in die Bentley-klas) wat hul Rolls oor ’n groter spektrum van daaglikse aktiwiteite wil inspan.
In Amerika sal jy ’n kwartmiljoen dollar betaal vir die voorreg om die Ghost se ongelooflike V12 en gevorderde Flex-Ray-veerelektronika plus die allerbeste hout, leer, staal, chroom en verfwerk te geniet; die hele kaboedel met die hand uitgesoek, gesny, gepas, gevoeg, gelamineer, geskuur, gepoleer, gebout, geskroef, gesweis, getimmer en gebou.
En dit alles op die Ghost se troefkaart, naamlik ’n fantastiese onderstel: dubbelmikke voor, ’n variasie van BMW se Integral-V-uitleg agter en lugvere op elke wiel. Plus aktiewe rolweerstand. Plus aktiewe dempaanpassing. Plus, plus, plus…
Die eindresultaat is die wêreld se allerbeste rit en verrassend goeie hantering. Soos te verwagte is die hidroulies-ondersteunde kragstuur lig en vloeiend, maar met net genoeg gewig en terugvoer om die Ghost maklik en akkuraat te plaas (soos ’n entoesiastiese rit deur sommige van Suid-Kalifornië se nou bergkronkels bewys het).
Dit alles terwyl ’n onaardse stilte heers, asof die Ghost telepaties gedryf word. Omgekeerd, as jy tru, lewer kameras in die sy-spieëls weer ’n gerekenariseerde prentjie van die motor van bo – volledig met hindernisse soos randstene, heinings, pale, sypaadjies, parkeerstrepe en so meer.
’n Ware Rolls, dan?
Nes die Phantom, lewe die Ghost op die ekstreme oorkantste eindpunt van die Groot Knal-grafiek, waar alles enorm stil en amper spookagtig rustig raak. ’n Motor om jou hartklop te versnel is hy nie. Die Ghost kalmeer.
Meen te sê, dat temperatuurstellings bloot deur Off, Soft, Medium, High en Max aangedui word. Basta ook met ’n toerteller wat jou aan die meganiese werkinge van ’n masjien herinner. In’t plek daarvan bied Goodwood bloot ’n “kragreserwe-lesing” om te toon watter persentasie woema (uit 100%) op enige gegewe oomblik vir gebruik oorbly.
Klassieke Rolls-dinge, dan – nes die groot vierkantige sierrooster, swiepende bootlyne teen die motor se skouers af, koetsdeure (met ’n sambreel in) en klein agterligte in ’n stert wat o-so-elegant terugspits…
Die Ghost is ’n Rolls, ôlraait.
En knallend so.
* As jy nou jou bestelling (vir omtrent R4 miljoen) plaas, sal jou Rolls-Royce Ghost teen Augustus se kant afgelewer word.
- Rapport