Veel meer as net ’n stadsmini
2012-01-21 13:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dis nou nie soos ’n politikus wat met vrot eiers bestook word nie, maar as daar een vraag is waarmee mense motorjoernaliste peper, is dit oor “die wêreld se beste motor”.
Daar’s geen eenvoudige antwoord nie. Jy kan net sowel vir Gary Player of Ernie Els vra: “Wat’s die beste stok in jou gholfsak?”
Wel, as hulle op die bof van ’n syfer-4- of -5-gat staan, is daar ’n goeie kans dat dit die drywer op 3-hout is. Staan hulle op die bof van ’n syfer-3-gat, dan is dit dalk ’n 6-, 7- of 8-yster. Is hulle op die rand van die setperk, is dit tien teen een die wigyster. Is hulle óp die setperk of ín ’n sandkuil, is dit beslis die set- of sandyster. Die beste stok op enige gegewe oomblik word bepaal deur die soort hou wat gespeel moet word.
’Selle met karre: die beste een is die een wat die verlangde jop goed kan doen.
Nou vir die tweede mees algemende vraag aan motorjoernaliste: “Kan mens die langpad van Kaapstad na Johannesburg, of van Pretoria na Durban, met ’n stads- of minimotortjie aanpak?”
Beslis – as jy baie tyd en geduld het. So, die vraag raak eintlik: kan mens sulke lang afstande in normale tydperke voltooi, en redelik ongehawend anderkant uitkom sonder dat die stres van so vele ander – en groter – voertuie op die pad jou siel verteer? Kan mens vragmotors met sulke kleintjies verbysteek? En kan hul petroltenkies jou van een vulstasie in die Karoo na die volgende een dra?
Rapport het die lang somervakansiepad tussen Johannesburg en die Kaap (en terug) met ’n kleine Kia Picanto aangepak. En nie hoe nie, maar in die intreevlak-Picanto met sy eenliter-driesilinderbron.
Dis ’n enjintjie wat 51 kW en 94 Nm via ’n vyfgang-handrat na die voorwiele stuur. En goed: einste oondjie moet minder as ’n ton saamsleep. Maar dis nie soos mens op vakansie gaan nie. In Desember word ’n voertuig tradisioneel swaar gelaai, vol ditte en datte op die langpad kus toe. Of Bosveld toe. Of binneland toe.
En jip, ons het dit relatief maklik gemaak. Maar sonder ’n oordonderende “ja” as antwoord op enige van bostaande vrae.
Of laat ons dit eerder só stel: meganies is daar geen probleem nie.
Die Picanto bied ’n waarborg vir vyf jaar of 100 000 km en daar’s rede daarvoor. Dís soos die Koreane en Japannese hul enjins bou: as betroubaar en onbreekbaar.
Nou vir die spoed wat jy op die langpad kan handhaaf: 120 km/h is geen probleem nie. Op plat en oop ente in die Karoo kan die Picanto’tjie selfs 140 of 150 km/h haal, as dit moet – en erken nou: dis gemaklik meer as wat jy vermoed het, of hoe?
Einste is dit die soort vermoëns waarop jy tydens verbysteek-maneuvers kan staatmaak – maar daar ís ’n vangplek. Met goeie tydsberekening kan jy jou lopie van ver af aanpak om by vragmotors – en selfs die tou karre wat dikwels agter hulle opdam – verby te seil.
Maar die meeste mense het nie die vertroue – of selfs oordeelsvermoë – om verby te steek sonder dat hulle eers hul ooppad-momentum gebreek het nie.
Overgesetsynde: om veilig te voel, moet hulle skynbaar eers spoed verminder en ’n tydjie lank agter ’n lorrie – of die tou motors agter daai lorrie – talm voordat hulle verbysteek.
As jy daai soort drywer is, gaan jy sukkel om met die driesilinder- Picanto’tjie te vorder. Jou reis gaan ’n lang en uitputtende een word. Maak ook nie saak hóé goed jy bestuur nie, maar teen lang bulte moet jy ieder geval laer ratte haak, soms selfs derde, as jy momentum wil behou. Dis nie net ’n saak van voet neersit en daar gaat jy nie.
Volgende op die agenda is goeie beplanning. Met sy 35 liter-tenk bied die Kiatjie in die orde van 7 liter/100 km as jy konstant rondom die spoedgrens ry. Teen
2 liter/100 km meer as die amptelike syfer, vertaal dit in ’n reikwydte van omtrent 500 km. Op die langpad raak daai laaste 100 km ’n faktor wat in berekening gebring moet word. Maak jy op die pad noorde toe die tenk vol in byvoorbeeld Leeu-Gamka, net suid van Beaufort-Wes, gaan jy beslis nie Bloemfontein haal nie. Maak jy dit sowat 90 km verder in Beaufort vol, gaan jy Bloem dalk net-net-net haal – maar jy kan nie daai kans vat nie. Selfs al maak mens net noord van Beaufort, in Drie Susters vol, sal jy veiliger voel om nogmaals op Colesberg – ’n skamele 235 km verder – te hervul, eerder as om nóg 220 km uit die tenk te probeer tap.
Maak nie saak hoe jy dus beplan nie, stop sal jy minstens drie keer tussen die Goud- en Moederstad moet stop. Die Picanto’tjie se sitplekke is ook effe aan die ferm en plat kant, wat jou lyf in ’n mate oor 1 500 km gaan uitput. En die stuur is vaag.
Maar maak gaan jy dit maak, en in redelike gerief as jy die voordele van lugversorging, CD-klank, iPod/USB-poorte, voldoende snoesterypakplek, goed gevormde koeldrankhouers in deursakke plus ’n ordentlike rit vir ’n kortafstandmotor as standaardgegewens bytel.
Dit nou as jy twee of dalk drie mense is; pakplek vir vier op vakansie raak bietjie knap.
Teen ’n gemiddelde van R10,55 per liter petrol sal ’n volgepakte Picanto wat heelpad op die spoedgrens en dalk bietjie vinniger gery word, jou in die orde van ’n R1 000 tot R1 100 in elke rigting kos.
Doen egter ’n bietjie dinkwerk – vooraf in terme van petrolstoppe en op die pad in terme van verbysteekwerk – en ja, vir R100 000 raak Kia se pikante intreevlakmodelletjie meer as net ’n stadsmini.