Ysterkoei het geswéét!

2013-02-16 23:58

Nog nooit vantevore was dit selfs naastenby so plesierig om ’n SL deur ’n bergpas te looi nie.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Alle motors word aan die volgende toets onderwerp: voorkoms. Jy kom, jy kyk en jy hou van. Of nie.

Besluit dus maar self. Myns insiens is die stilering van Mercedes-Benz se nuwe SL oninspirerend. Op ’n streng serebrale vlak het Hans-Dieter Futschik en Steffen Kohl wel sekere sinvolle estetiese stellings gemaak; daar’s elemente wat hard blaf.

Maar in sy geheel vertoon die ontwerp halfgebak.
 
So was daar tydens laas jaar se wêreldbekendstelling ’n opmerking dat die nuwe SL se neus en stert skynbaar deur twee verskillende ateljees bedink is. ’n Merc-man – wat kennelik ontevrede met die SL-jas is – het sy kop heen en weer geskud en sonder om ’n woord te sê drie vingers in die lug gehou.

Mens kan sien hoekom hy so ’n grappie sou maak. Die neus staan in die idioom van Benz se nuwe industrieel-kragdadige styl; daar’s min van die SL se tradi­sionele elegansie oor. Die hoofsondaars is die bluffe regop aangesig, ’n swaar flikkerliggrafiek wat soos ’n draak se wenkbroue oor klein koplampe krul en die motor se oë onnatuurlik ver na buite beur, plus die binnesye van lighulse wat skynbaar teen die verkeerde hoek na onder buig, wég van die rooster af.

Die gevolg is ’n besige visuele ongemak.

Op ’n positiewe noot spog die nuwe SL met ’n effe langer enjinkap asook ’n sterk, skoon herinterpretasie van die oorspronklike 300SL se pragtig louver-sy-uitlate, maar beperkte ruimte (tussen voorwiele en deursnitte) dui op die moderne motor se bonkinge aard, versus die 1950’s se elegante verhoudinge en grasieuse bak.

Bygesê, die estetiese knou wat deur ’n kort asafstand toegedien word, het al in 1963 se tweede-geslag-SL begin sluimer. Dis ’n probleem dié wat darem ligweg deur die nuweling aangespreek word: Die sesde geslag is die eerste SL wat ’n maatband verby 4,6 m rek, wat beteken dat asafstand ook langer as die vorige model s’n is.

Ongelukkig word dié wins visueel ondermyn deur twee drumpelriwwe waarvan die agterste een lyk of hy onder die voorste een ingly, amper soos ’n vurkhyser se tande onder ’n krat in – wat die opvatting versterk dat die SL se voor- en agterhelftes deur twee (of drie) verskillende ontwerpspanne gekonseptualiseer is.

En dís wat die filosofiese probleem skep: Die motor se voorstuk het ’n boelie-houding, ’n hardekoejawel-neus met stomp, wrede, kwaai grafika, terwyl die sagte ronde stert se poging tot ’n sensualiteit van ouds bloot lam-in-die-boud na benede wegdruip, nieteenstaande die pofrug waarin die hardekap op ’n sonskyn-Sondag moet doedoes.

Want ja, daai metaalkappie slaan af: die SL (vir “Sport Leicht” in Duits, menende ’n ligte sportmotor) is oopdak-boulevardwiele én ’n haastige koepee; ’n spog- en vuurwa, soos dit nog altyd was, eerder as ’n ware sportwa.

Met Mercedes se onverbiddelike fokus op ingenieurswese, veiligheid en weelde was gewig nog altyd ’n hindernis op die SL se sportiewe weg. Elke luukse item, elke onderdeel wat langer hou en elke stelsel wat tot beskerming of beheer bydra jaag eenvoudig die skaal na bowe.

Voeg ’n tradisionele staalbak hierby en die vorige SL was ietwat van ’n ysterkoei.

Maar nou ja, so ’n koei moet sweet, het Breytenbach amper ’n halfeeu gelede gesê (voordat hy sy debuutbundel aan “vriende, in tronke met tande” opgedra het).

Nou hét daai ysterkoei gesweet. Die SL lomp nie langer in die tronk van ’n staallyf rond nie. Dit vernaamlik omdat 90% van die nuwe bak uit aluminium is, wat – afhangende van model en saam met ’n paar ander besparings – sowat 110 tot 170 kg uit voorgangers sny.

Dis baie – en jy voel dit, nogmaals, aan voortreflike ritgehalte plus daai stuur met tande wat byt. Greepvlakke word boonop deur breër skouers verhoog – die SL is 57 mm wyer as voorheen, en 50 mm langer – terwyl spoed-sensitiewe elektriese kraghulp en ’n meganies-varieerbare ratio ook die beste Benz-roer tot nog toe lewer: Lig teen lae snelhede, met skerp draaihoeke; maar ook met véél verbeterde kraghulp-algoritmes vir stabieler stuurwerk teen hoë snelhede.

En dis juis die ding: Dat lading én reaksies so goed aan die vereistes van verskillende omstandighede voldoen, al is die motor se veerstelsel in “gemakmodus” nog lekker sag (ten minste vir dié soort wa). Bygesê, motormassa in die orde van 1,8 ton is steeds te veel om die SL as waarlik rats te beskryf.

Dit bly egter ’n verrassing om te vind hoe akkuraat en maklik die swaarste model, die SL65 AMG, met net daai nodige titseltjie stuurywer vir draaie opgestel kan word, hoe jy die invalshoek van effe wyd af stormend op die remme kan vernou, en siedaar! ’n Stert wat net mooi deur die apeks na buite begin skuifel, net so effe-effe, maar genoeg om dooddollies vir maksimum traksie uit draaie uit op te lyn.

En, wat lekker! ’n Benz wat jou adrenalienklier in die kinkels kielie! Man, en kan jy darem vir ’n slag vroeg op ’n driepuntster se versneller klim!

Laasgenoemde is juis veel wakkerder as ooit tevore, wat beteken dat jy gróót krag úíters goed kan gebruik: ’n nuwe 4.7 liter-V8 met dubbelturbo’s en direkte petrolinspuiting vir die SL500 (320 kW, 700 Nm, 0-100 km/h in 4.6 s), terwyl die SL63 AMG en SL65 AMG onderskeidelik deur ’n 5.5 liter-dubbelturbo-V8 (395 kW, 800 Nm, 0-100 in 4.3 s) en ’n 6.0 liter-dubbelturbo-V12 (463 kW, 1 000 Nm) gedryf word.

Die sagteware op Merc se 7G-Tronic-ratkas kan derde miskien ’n bietjie gouer op die afrat haak, en aktiveringsknoppies en -programme vir al die verskillende enjin-, ratkas- en traksiemodusse kan eenvoudiger.

Dit in ag genome bly die pad-ervaring ’n openbaring. Nog nooit vantevore was dit selfs naastenby so plesierig om ’n SL deur ’n bergpas te looi nie, en nog nooit voorheen kon jy dit met dié soort beheer en vertroue doen nie.

Dank daai aluminium-dieet hiervoor; gister en eergister se gestoeiery om die ysterkoei se neus op koers te hou en die lyf se waggel te hok, is iets van die verlede.

In die plek daarvan kan jy jou nou verlustig aan reënveërs met ’n swetterjoel waterspuiters op die veërs self of ’n glasdak wat op aanvraag verdonker. Of jy kan die wêreldwye web besoek. Werk Benz s’n soos my Telkomlyn en jy sal jou motor van Duitsland af tot in Suid-Afrika kan ry voordat die eerste blad oopmaak. En dan’s dit te laat vir beurs-aktiwiteite (want aandeelpryse kan ook opgekyk word). Dan moet jy maar sweet.

Dít het die SL klaar gedoen. Hy’t uit die tronk ontsnap. Nou’s hy lekker lig, met tande wat byt.

Wat beteken dat Stuttgart nog net van daai ystergesig ontslae moet raak.

* Pryse – Mercedes-Benz SL

SL500 – R1 673 000
SL63 AMG – R2 169 000
SL65 AMG – R2 681 000

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-19°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 3-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-25°C Sunny. Mild. PE: 14-25°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!