- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Aanval op intellek
deur Brahm du Preez, Sinoville
2012-02-18 14:59
Dit is betreurenswaardig dat prof. Julian Smith so bedenklik met die waarheid omgaan in sy artikel “Witgesmeerde aanstelling?” in Rapport Weekliks van 12 Februarie.
Toe Peter de Villiers in 2007 aangestel is, kon Heyneke Meyer ’n Vodacombeker (2001), vier Curriebekers (2002, 2003, 2004 en 2006 gedeel), asook ’n Super14-titel, op sy CV skryf.
De Villiers het gemengde welslae behaal met die SA o.21- en opkomende-Bok-spanne. Die onderskeie suksesrekord van die twee here is regtig nie vergelykbaar nie. Merietegewys was daar net een keuse: Heyneke Meyer.
Indien die prof se geheue nie meer lekker is nie, wys ek hom graag daarop dat die president van Saru, Oregan Hoskins, in ’n TV-onderhoud ná De Villiers se aanstelling erken het hy was “nie noodwendig die beste kandidaat” nie.
Om ons vandag te probeer oortuig dat die aanstelling op meriete en prestasie geskied het, is ten beste ’n aanval op ons intellek.
Dat De Villiers ’n goeie mens is en geliefd was onder die meeste spelers in die Bokspan word nie betwis nie. As dit die hoofkriteria is, kan ek aan nog 100 ouens dink wat vandag daardie pos kan vul.