- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Al hierdie betalings op petrol skokkend
deur Hennie Pienaar, Bellville
2012-12-02 00:19
Stakings, oproer wat grens aan anargie met swak betaling as die “rede” is die laaste paar maande al hoofnuus, en dit raak net al hoe erger.
Jan Publiek moet oral besnoei om kop bo water te hou, en as dit nie Eskom is wat verder vreet aan almal se beursies nie, is dit hoë brandstofpryse wat die situasie net verder benard maak. Daarom is dit vir my skokkend om te lees dat Suid-Afrikaners moontlik jare al (onnodig) te veel betaal vir brandstof.
Luidens ’n berig in Sake24 stel die departement van energie nou ondersoek in na ’n “bobetaling van 15%” op die verskeping van brandstof na Suid-Afrika “wat moontlik uit die sanksiejare spruit”. Dié heffing word vandag nog deur verbruikers betaal! Mooi, man! Dit is algemene nuus dat heffings en ander belastings by die basiese brandstofprys gevoeg word, en luidens die berig maak dit sowat ’n kwart van die prys uit!
As dit wel so is dat ons nog al die jare te veel vir brandstof betaal, is dit nodig dat die regering die saak dringend ondersoek. Hoeveel sakemanne, boere, die mynbousektor en die gewone verbruiker gebruik brandstof en betaal dan elke maand te veel daarvoor! Geld wat eintlik “gesteel” word en gebruik kon word om eerder elders te gebruik, soos hoër salarisse. Dit is mos net logies dat die brandstofprys ’n invloed sal hê op insetkoste in veral die landbou, en ’n beter brandstofprys kan boere oor die algemeen bevoordeel. Net so die verbruiker wat hoë voedselpryse moet betaal.
As iemand in die regering wel kan verstaan waaroor dit gaan, sal daar seker eers ná Mangaung en die aanwys van ’n nuwe president iets hieraan gedoen kan word. Indien ooit!
Intussen maak ons die regering ryker met elke liter brandstof. Ek wonder nou net of Nkandla dalk ook ondergrondse brandstoftenks het.