- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Apartheid kom nie uit Bybel
deur Jan Venter, Hankey
2010-03-06 16:45
Die artikel “’n Kerk wat samelewing ken…” (Rapport Weekliks, 21 Februarie) deur Amie Van Wyk, en veral die inleidende paragraaf, het my diep laat nadink. Ek verklaar dat ek nooit geglo het apartheid is Bybels geregverdig nie. En as ’n Dopper kan ek nie onthou van ’n preek wat so ’n regverdiging voorgehou het nie. Nou klink dit vir my of die Bybel weer eens ingespan word om apartheid tot sonde te verklaar. Het iemand so iets in die Skrif gelees?
Hoe sal ek apartheid aan my kinders regverdig? Sekerlik nie op Bybelse gronde nie. Nee, ek sal moet erken dat dit verkeerd was, maar dit was en is ’n drang tot oorlewing wat my gedwing het om dit as die enigste werkbare alternatief te oorweeg. ’n Mens kan tog nie verkwalik word as jy in selfverdediging optree nie. Kyk om jou en sien self waarvoor ons bang was. Plekname, straatname, stadsrade wat in duie stort, paaie wat verval. Ons taal wat vertrap word, noem maar op. “Die tirannie van die meerderheid.”
Die lys sal my brief te lank maak vir publikasie. Die slotsom? Dit het niks met kerk of godsdiens te doen gehad nie; dit was suiwer oorlewing. En ja, dit het onvolhoubaar geword, want die massas het ons oorval. Ons het nie regtig die mag vrywillig prysgegee nie; hulle het ons gedwing.