- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Breking van Karoo sal groot fout wees
deur P.S. Swart, Waterkloof
2012-09-22 23:41
Die beginselbesluit om hidrobreking in die Karoo toe te laat, is rede tot kommer en laat verskeie vrae ontstaan.
Waarom is die name van die lede van die “raad van kenners” wat die kabinet adviseer het, nie bekend gemaak nie? Is hulle werklik betroubare wetenskaplikes of is hulle kwasi-wetenskaplikes soos oudpres. Thabo Mbeki se “alternatiewe vigsraad”, wat ons land soveel gekos het aan verlies van aansien en menselewens?
’n Mens kry die gevoel dat die hele saak nie openlik hanteer word nie.
Die inhoud van hierdie verslag is nog nie bekend gemaak nie. Hoekom nie? Wanneer kan ons verwag dat dit bekend gemaak word?
As die kabinet so seker is dat hidrobreking skadeloos is, waarom sal dit nie naby die SKA-projek toegelaat word nie? Susan Shabangu, minister van minerale bronne, gee die versekering dat die regering die proses sal monitor en met die eerste tekens van skade sal dit gestaak word.
Watse monitering sal gedoen word? Die skade wat mag voorkom, sal nie herstel kan word nie en besoedeling weens hidrobreking kan vir jare voortduur nadat alle werk gestaak is.
Daar bestaan wetgewing om die omgewing in Mpumalanga te beskerm teen besoedeling deur steenkoolmyne. Dit word so swak toegepas dat die steenkoolvelde se waterbronne besoedel geraak het soos wat in Carolina gebeur het. Sal monitering in die geval van die hidrobreking beter wees? Ek huiwer om dit te aanvaar ná die skade wat op die steenkoolvelde se water en ander waterbronne voorgekom het. Besoedeling van riviere deur riool- vuil kon nie eens verhoed word nie.
Een van die ministers het glo gesê dat die skaliegas ’n geskenk van God aan die mense van Suid-Afrika is. As dit sy oortuiging is, moet hy tog ook glo dat ons hele land ’n geskenk van God aan ons is met die opdrag om dit verantwoordelik te bestuur. Moet ons nou ons omgewing in die Karoo opoffer om die geskenk van skaliegas te kan benut?
Wie gaan geldelik baat vind by die ontginning van die skaliegas? Is die bewerings waar dat die ANC beleggings in Shell het?
Hidrobreking moenie toegelaat word nie. Die skade wat dit sal meebring, kan nie ongedaan gemaak word nie.