- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Depressie: simptoom van liefdeloosheid
deur Susan Heyns, per e-pos
2012-01-28 14:21
Ek het in ’n diep gelowige Christelike huis grootgeword. Ongelukkig is ek toe ook “vervloek” met ’n ewig nuuskierige verstand. Omdat ek dus altyd die verkeerde vrae aan my ouers, familie en predikant gevra het, is ek van kleins af verdoem om na my dood in die hel te verbrand. Vyftig jaar lank het ek aan “depressie” gely hieroor. Ek het nooit getrou nie, want ek het myself as ’n slegte, sondige mens beskou, wat nie werd is om lief gehê te word nie. Ek het baie aan selfmoord gedink, maar was selfs te bang daarvoor, want dan "lê die hel vir my voor".
Twee jaar gelede het ek bloot toevallig weens ’n sameloop van omstandighede afgekom op ’n groep mense vir wie “God” tweede kom. Onder hulle is gelowige Christene, Moslems en ander gelowiges, asook heeltemal ongelowige mense. Maar wat almal van hulle in gemeen het, is dat hul gemeenskappie vir hulle die heel belangrikste besitting is. Selfs vir die gelowiges onder hulle, is hul plig teenoor die gemeenskap belangriker as hul plig teenoor hul God. En vir die eerste keer in my lewe het ek ware liefde ervaar.
En ons is nie ’n klomp agterlike “hooligans”, soos wat ek altyd geglo het ongelowige mense is nie. (My familie glo dit steeds en weier om ’n voet by my te sit). Ons het ook selfone en TV’s in ons huise. Ons steel nie van ander nie, vermoor nie alles wat voorkom nie, vloek nie, en slaap nie rond nie. En ons is altyd vrolik en bly, ons lag vir enigiets – meeste vir onsself. Lag en vrolikheid is iets wat ek as gelowige Christen nooit geken het nie.
Ek het twee jaar laas enige “depressie” ervaar. Depressie is nie ’n siekte nie; dit is bloot die simptoom van ’n ander siekte: Goddelike liefdeloosheid.