- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die media stook die Amor-Joost-vuur
deur Reinhold Swart, Belville
2012-09-12 13:13
Ek raak so de Joost in.
Die media is die olie wat sorg dat die verterende vuur tussen Amor Vittone en Joost van der Westhuizen bly voortwoed.
Dit is ysingwekkend om die vernietigende rol wat die media in glanspersone se lewens kan speel, te aanskou. Dink net aan Greame en Minki, Sunette Bridges en al haar treurmares, Mark Fish, Kevin Leo en Hansie Cronjé; net te veel om te noem. Die leserpubliek is later so uitgemergel deur die stortvloed van eindelose verwyte dat selfs, sonder om onsensitief te wees, Hansie se noodlottige ongeluk as ‘n vorm van "verlossing en uitkoms" beleef is.
Karin Burger se artikel ("Joost het vier keer verbrou") in Rapport verlede Sondag is ‘n sprekende voorbeeld van gifsaai, soos ‘n suidoostewind agter ‘n veldbrand. Emosie-belaaide woorde word kundig ingespan: "teister", "angsaanvalle", "lelike goed van hul mammie sê", en dan woordkeuses wat nie by ‘n berig oor ‘n dame pas nie, "moerse" en "my gat af werk". Al het Amor hierdie woorde gebruik, dalk in ‘n oomblik van ontsteltenis, kan dit sagter gestel gewees het. En só dalk ‘n "lekker" opvolgstorie bederf?
Die tafel is gedek en Joost word nou weer gedwing om te reageer. Die banier-opskrif mag dit só uitroep: "Amor kla sy werk haar gat af", maar wat van arme Joost wat besig is om sy gat te sien. Dit sal net nooit ophou nie.
Kenmerkend van hierdie berigte se formaat is ‘n refrein van die-minste-te-wees, wat soos ‘n goue draad daardeur loop. Met gereelde intervalle sal die persoon in wie se guns daar geskryf word, opmerk dat geen "haat word gekoester" en vir die ander party word "alles van die beste toegewens". So word die lydende party se grootmoedigheid beklemtoon en nóg simpatie geskep.
Ironies genoeg, direk onder die genoemde berig, verskyn AJ Opperman se storie oor Philip Moolman en Susan Coetzer se "sprokies"-egskeiding, die volwasse manier hoe hulle dit hanteer en die "volkleur" lewe wat hul nou lei. Totdat die eerste klappe uigedeel word en jy net "blou kolle" sien waar jy kyk.
En dan die laakbare. Die media hou hul dop, om die fynste krakie tot ‘n ravyn oop te ruk.
Help dit nog om de Joost in te raak?