- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit bly steeds bose ontgroening
deur Ben Gad, Welkom
2012-01-28 13:35
As die ouer van ’n eerstejaarstudent aan die Puk is die rektor se verskoning oor die verdrinking van die Ratau-student vir my klaaglik onvoldoende. Die Puk-bestuur het dit laat klink soos ’n tragiese voorval tydens ’n feesgeleentheid, maar dit was inderwaarheid die afsluiting van die eerste week van ontgroening en al die eerstejaars was fisiek uitgeput. Die waatlemoenfees was ’n ramp wat gewag het.
Watter veiligheidsmaatreëls het gegeld toe hulle meer as 3 000 studente deur daardie swembad laat gaan het? Was daar lewensredders en duikers teenwoordig? Die waarskuwings aan mense wat nie goed swem nie, was onvoldoende, ook weens die indoktrinasie en groepsdruk wat met ontgroening gepaardgaan.
Universiteite lei die publiek al jare om die bos. Ontgroening heet nou “verwelkoming” en twee weke op die Puk word met hierdie argaïese en sinlose praktyk gemors.
Waarom klou hierdie instellings so aan die praktyk? Dr. André P. Brink gee in sy biografie die verduideliking en dit is bevestig deur navorsing deur die teoloog Eben Swart van Bellville wat die onheilige en diep Vrymesselaarbande en tradisies van hierdie bastions van die Afrikanerdom blootgelê het.
Dit is nie net die Puk wat tot verantwoording geroep moet word nie; die UJ se verskonings oor die onlangse chaos en vertrapping is eweneens oppervlakkig. Dit was nie die eerste keer dat duisende aansoekers die universiteit stormloop nie.
As hierdie universiteite aan dieselfde bedryfsmaatstaf as mynmaatskappye onderwerp word, sal alle bedrywighede vir ’n dag of twee gestaak en ’n reuse-boete opgelê word.