- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Erken Phil se aandeel in Arende se sukses
deur Tienie Halgryn, George-Oos
2012-02-04 14:43
Ek het Sondag Hanlie se artikel oor Heyneke Meyer, vir wie ek ondersteun, baie geniet.
Dit was egter teleurstellend dat daar nêrens erkenning gegee word aan Phil Pretorius wat in 1996 George toe gekom het as hoofafrigter van SWD nie. Sy verbintenis met Heyneke by die destydse Normaal-kollege in Pretoria het gelei tot die keuse van Heyneke as hulp-afrigter.
Die SWD-span het bestaan uit spelers wat nie by ander provinsies in die A-span kon kom nie, asook ander belowende spelers. Vroeg in die seisoen het Phil die SWD-span ’n nuwe naam gegee en so het die Arende die Volstruisboere vervang.
Soos Hanlie genoem het, het die Arende die vorige jaar (1996) se nederlaag van 147-8 (nie 140-8 nie) omgeruil. Ek was die aand op Loftus toe die Arende onder die afrigting van Phil die Bulle met 30-18 geklop het. Ander spanne het toe kennis geneem van dié nuwe span wat Phil en Heyneke tot ’n gevreesde span omskep het.
Phil is in 1998 na die Valke en Heyneke het die hoofafrigter geword, met Frans Ludike sy hulp. In 1999 is Heyneke by die Springbokke betrek en is ook saam met dié span oorsee na die Wêreldbekertoernooi.
Frans het toe oorgeneem en die span gehelp tot die halfeind van die Curriebeker. ’n Swak skeidsregterbeslissing in die wedstryd tussen die Bulle en die Arende het daartoe gelei dat die halfeindstryd op Ellispark gespeel is en nie op George nie.
Die ongelukkigheid is met Sarvu opgeneem en die SWD is om verskoning gevra. Die skeidsregter het ook later persoonlik teenoor my erken hy het gefouteer.
Ek glo tot vandag toe dat die opbloei van die SWD Arende deur Phil Pretorius geïnisieer is en dat Heyneke se sukses hieruit voortgespruit het. Jy bring ’n perd tot by die water en dan moet hy besluit wat hy gaan doen. Hierdie perd – Heyneke – het gewys dat hy suksesvol wou wees en vandag en in die toekoms gaan Suid-Afrikaanse rugby daarby baat vind