- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
G’n waarborg ander kiesstelsel sal werk
deur Francois Bekker, per e-pos
2012-11-17 23:20
Die versugting dat die proporsionele kiesstelsel hersien word (Rapport, 11 November), is verstaanbaar. Aan die wortel van die probleem is gebrekkige verantwoordbaarheid teenoor die kiesers.
Die argument dat ’n kiesafdelingstelsel verantwoordbaarheid sal bevorder, is egter nie waterdig nie en daar sal nugter besin moet word oor die voor- en nadele van albei stelsels.
Kiesafdeling-verteenwoordiging met direkte stemme vir ’n kandidaat het ook nadele. Hiervolgens sit jy met ’n wenner-neem-alles-stelsel waar net die wenner se stemme tel en die opponent se stemme heeltemal verlore gaan. In teenstelling hiermee tel letterlik elke stem in ’n proporsionele stelsel. ’n Proporsionele stelsel verruim so die demokrasie en is veral nuttig in ’n diverse samelewing soos dié van Suid-Afrika waar politiek nog te gereeld op grond van etnisiteit bedryf word. Hou in gedagte dat die ANC se magshegenomie skaamteloos op ras gegrond is.
Al sou ’n kandidaat direk met die kiesafdelingstelsel verkies word, is so ’n persoon nog altyd verbind tot ’n party se ideologie en partystrukture. So beskou, is kiesers se belangrikste oorweging watter party se manifes, ideologie en filosofie ondersteuning verdien al dan nie. Die rol van die individu moet nie oorskat word nie.
Daar is geen waarborg dat ’n ander kiesstelsel deursigtige, verantwoordbare en verantwoordelike regering sal verseker nie.