- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
‘Godloos’ omdat hy nie aan Satan glo
deur Gert Brynard, Durbanville
2012-08-12 00:07
Die brief deur dr. Wynand Louw oor Satan met Jesus as skans (Rapport, 5 Augustus) ruk my uit ’n selfopgelegde stilswye.
Ná 70 jaar se toegewyde Christenskap, amper soos Louw, word ek deur ’n NG Kerkamptenaar as “godloos” getipeer omdat ek nie glo aan ’n verpersoonlike Satan nie.
Dit is nie eens nodig om gedagtes daaroor te ruil nie, sê hy; hy weet mos, want dit staan dan in die Bybel!
Ná twee jaar se nodelose pogings om dié kerk te oorreed om saam met “andersdenkendes” oor sulke onderwerpe te kommunikeer/debatteer is ek oortuig dat die lig uit ’n ander verstaansvlak nie besig is om te kwyn nie, maar om in helderheid toe te neem.
Teen hierdie tyd het ek al honderde artikels en boeke oor/uit Bybelnavorsing, moderne insigte, ensovoorts, verslind.
Die deernislose afsydigheid van my kerk, maak my hipersensitief vir byvoorbeeld die maniere waarop verkondigers die inhoud van die Bybel al hoe meer moet aanpas/skuinsdraai om ’n oerinterpretasie nog sogenaamde geloofwaardigheid te gee.
Die bestaan van Satan is nie nodig om die Christusboodskap aanvaarbaar te maak nie.
Dit leer my om die filosofie wat ek deur middel van dr. Ben du Toit se skrywes verneem het ook myne te maak.
Dit kom op die volgende neer: “Mens kan slegs meedoen aan iets wanneer jy dit met behoud van jou intellektuele integriteit kan doen.”
Ek ken onder andere Wynand Louw se oordrewe fundamentalistiese sienings – wat al kerklike webwerwe laat sneuwel het – en sy genoemde brief wys dat soortgelyke filosofieë nie agter skisofrenie-agtige skanse bestaan nie.
’n Mens moet besorg en bekommerd wees oor dié tekortkominge van almal wat agter dieselfde soort skanse skuil, van waar hulle ander moderne gelowiges op ’n gans ander rigting dwing.
Ek was in so ’n gang sonder meegevoel.