- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Herlewing van ubuntu-waardes kan SA van outokrasie red
deur Johann Broodryk
2012-07-28 23:25
Mooi, Pelgrimsrus!
Die beste nuus die afgelope week, vir almal wat glo aan ’n vrye regbank, was die hooggeregshof se uitspraak ten gunste van die sakelui in Pelgrimsrus wat amper hul brood-en-botter-inkomste weens burokratiese rompslomp en duistere poer-poer verloor het.
Die uitspraak behoort almal in die land te inspireer om oral waar ongeregtigheid voorkom regsweë te gebruik om onsinnige owerheidsbesluite te kelder.
Die arme mense van Pelgrimsrus word al die afgelope drie jaar erg getreiter deur die betrokke staatsdepartement, en die beweerde onteiening van ondernemings deur allerlei skrikwekkende metodes te gebruik is heeltemal onaanvaarbaar in ’n vrye en oop gemeenskap.
Hierdie geboelie van regeringskant en outokratiese tegnieke is waarskynlik die logiese manifestasie van pres. Jacob Zuma se “all power!”-oproep by kongresse aan ANC-lede.
Al wat die land van algehele outokrasie gaan red, is die aanwakkering van ’n groter sin vir geregtigheid. In die Afrika-konteks eis regverdigheid die herlewing van die welwillendheidswaardes van ubuntu.