- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Hulle is leiers wat ons wil hê
deur
2012-12-02 00:19
Na aanleiding van Rapport se versoek dat lesers sê wie hulle as hul leiers beskou:
* Dis ’n kombinasie van Helen Zille, Mamphela Ramphele, Thuli Madonsela en Cyril Ramaphosa.
Een ding is vir seker – onder die “nuwe” jong denkers – wit, swart en bruin – bestaan hy of sy wel – ons wag net daarvoor!
Apartheid het baie jare geneem om uitgedien te raak en so ook sal dit wees om die ANC-tragedie te verwyder, maar dit sal nog gebeur! – Eugene Kruger, per e-pos
* Ek stem 100% saam met Max du Preez. Helen Zille is my keuse. Hoog tyd vir ’n vrou. Het mans nie al genoeg aangejaag in hierdie land nie? Veral die Afrikanerman. Ek verbrand nie my bra nie, ek is doodeenvoudig ’n Afrikanervrou wat nou genoeg gehad het. Nie net van Afrikaanse mans nie, die hele ou spul. – Sanet Viljoen, per e-pos
* Die Afrikaner van vandag soek nie één leier nie, maar wel mense wat ’n trots in hulself en hul reg op voortbestaan in dié land sal regverdig. Ons wil weerspieël word deur mense van integriteit wat die hoogste sport in hul beroepe bereik.
Mense soos Kallie Kriel en Flip Buys, Hermann Giliomee, Kerneels Breytenbach, Jonathan Jansen, Rhoda Kadalie, Riaan Cruywagen, Dana Snyman, Louis Oosthuizen en Karen Meiring. – Dr. Daan Luyt, Pretoria
* Ek het pas my matriekeksamen voltooi. Ek beskou prof. Jonathan Jansen as ’n leier. Ek het prof. Jansen ná my ontmoeting met hom ervaar as ’n passievolle, gemotiveerde rolmodel. – Majorie Smal, Swellendam