- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Kings se deelname ’n klug en verleentheid
deur Christo Piek, Brenton-on-Sea
2012-09-29 22:19
Cheeky Watson se versoek aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie om toegelaat te word om meer oorsese spelers vir die Superrugbykompetisie in 2013 te kontrakteer as die toegelate twee per franchise is myns insiens net weer ’n bewys daarvan dat die Kings se toelating tot die kompetisie deurspek is met politieke opportunisme en Watson se arrogansie.
Die Kings se motivering vir toelating was nog altyd om meer swart spelers die geleentheid te gee om deel te neem. Nou, ewe skielik, moet oorsese spelers nader getrek word.
Dit maak die Kings se deelname ’n klug en ’n verleentheid vir Suid-Afrikaanse rugby en is besig om in ’n bedrogspul te ontaard.
Waarom moet daar uitsonderings gemaak word vir die Oos-Kaapse span? Watson en sy trawante het genoeg tyd gehad om hul huis in orde te kry vir deelname. Waar is die swart spelers en waar is die borge? Hulle is tans die span met die minste swart spelers!
Jurie Roux en sy Suid-Afrikaanse Rugbyraad moet beslis ’n stokkie daarvoor steek dat Watson sy sin kry. Die Leeus se relegasie was al klaar ’n bedenklike besluit inaggenome waar die Kings hulle tans in die Suid-Afrikaanse rugby-opset bevind!
Dit is hoog tyd dat die Kings besef dat deelname verdien moet word. ’n Promosie/relegasiewedstryd wag vir hulle aan die einde van 2013.
Die Leeus se bestuurspan moet verhinder dat enige van hul huidige spelers aan die Kings uitverkoop word. Hopelik sal Kevin de Klerk en sy span toesien dat daar goed na die Leeus-spelers omgesien word (finansieel en andersins) terwyl hulle wag vir die “armdrukwedstryd” in 2013. Om Arnold Schwarzenegger in The Terminator aan te haal: “We’ll be back”!