- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Koester, waardeer boeke en tydskrifte
deur Marlé Smit, Vanderbijlpark
2012-07-07 14:35
Met stilstuipende woede in my lesershart het ek die berig “Motshekga jok oor handboeke” gelees.
Daar word so duidelik in skole bewys die chronologiese ouderdom het die leesouderdom van laerskoolleerlinge ver verbygesnel... en dan word berge boeke vernietig!
Waar is die waardestelsel heen dat koerante, tydskrifte en veral boeke gekoester en waardeer word?
Waar word kinders geleer dat die geskrewe woord kosbaar is?
Waar is die uitreik na minder gegoede kinders wat smag na die gevoel van blaaie en papier en drukkersink in hul hande as gesagsfigure mors met dít wat juis kennis en leesvaardigheid meebring?
Handboeke word in ons opvoedingsmilieu beskou as instrumente wat deur kenners met vaardighede, kennis en opoffering saamgestel word.
Dit gaan gepaard met die verwagting dat dit iewers ’n leergierige brein sal bereik en dat ’n positiewe opvoedkundige reaksie daaruit sal voortspruit.
Dan beleef ons dat kosbare boeke verpulp word?
Sekerlik sou talle skole die voorreg wou aangryp om boeke te bekom, maar die derduisende rande, vermorste papier en hout, die tyd van outeurs en uitgewers, proeflesers en illustreerders beland op die ashoop van verminkte geleenthede.
Die betrokke leerlinge moet ’n gulde kans prysgee weens swak administrasie, onvergeeflike denkpatrone en ’n gebrek aan beplanning.
’n Traan val op die verpulpte buiteblad van elke verdoemde boek.