- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Kohesie met kulturele warmte bevorder
deur Ivan Meyer
2012-07-28 23:25
Die onlangse beraad oor sosiale kohesie in Kliptown, Soweto, was soos vele programme van die ANC eksklusief, oneties en teenproduktief.
In sy openingstoespraak het pres. Jacob Zuma ’n droë rede oor die geskiedenis van die ANC gelewer, pleks van die meer inklusiewe geskiedenis van Suid-Afrika. Wat ons nou in Suid-Afrika nodig het, is kulturele warmte.
Dit beteken die skep van ruimte vir ander kulture op ’n wyse wat inspireer (nie kritiseer), respekteer (nie etiketteer), waardeer (nie elimineer) en menswaardigheid bevorder, eerder as om te kleineer.
Dit behels dat ons onder meer openbare dae moet vier waar alle kulture welkom voel.
Die burgerlike samelewing is meer strategies geleë as politieke prosesse om onderlinge samehorigheid te dryf. Die regering is bloot een van die akteurs en die dialoog en debat sal ook groter politieke volwassenheid vereis. Ons sal moet wegdoen met politieke beledigings van ander kulturele groepe bloot omdat een groepering in ’n bepaalde stadium die politieke meerderheid geniet. Dit kan verander.
Toe ek ’n kind was, het ek vriende huis toe gebring wat soos ek lyk en praat. Vandag sien ek my kinders bring vriende wat nie soos hulle lyk en praat nie. Dit is die platform vir kulturele warmte.
Ons sien dit by skole, universiteite, gemeenskapsorganisasies, geestelike organisasies en op die sportterrein. Ek sien die boublokke vir die bevordering van sosiale kohesie en kulturele warmte in die burgerlike samelewing.
Ons moet hierin belê deur ons onderskeie kulture te beoefen in ’n multikulturele konteks, mekaar se taal en kultuur respekteer, en ruimte laat vir ander kulture.