- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Landbou gaan val as staat nie begin help
deur Sela, Onrusrivier
2012-12-09 00:07
Die onlangse plaasopstande in die Wes-Kaap verdien verdere kommentaar.
Die Suid-Afrikaanse boer is onder druk en slegs goeie boerderypraktyke laat hulle nou nog kop bo water hou.
’n Landbou-onvriendelike regering, tesame met opruiende toesprake deur politici, laat veel te wense oor, om nie van hul taalgebruik te praat nie!
Ons verloor daagliks markte en uiters noodsaaklike buitelandse kapitaal omdat ons as ’n onbetroubare verskaffer gesien word.
Voorts toon navorsing deur VinPro, die diensorganisasie vir 4 000 Suid-Afrikaanse wynprodusentelede, dat die verbouing van wyndruiwe nou teen ’n verlies bedryf word.
Intussen verskaf die landbousektor in die geheel werk aan 650 000 mense, van wie 275 000 by die wynwaarde-ketting betrokke is, onder meer deur verspreiding, toerisme, wynkelders en 50 000 plaaswerkers. Slegs die mynsektor verskaf meer werkgeleenthede.
Daar is nou soveel as 100 000 ha-landbougrond onder wyndruiwe. Dit gee aan die staat ’n jaarlikse inkomste van R3,8 miljard, bestaande uit aksynsbelasting en BTW op verkope. Dit beteken dat die staat ’n inkomste van R38 000 per hektaar ontvang. Daarteenoor is die boer se wins maar net R6 000 per hektaar.
Die nuwe elektrisiteitstariewe is nie hierby ingereken nie en aksynsbelasting styg jaarliks.
Daarby moet ons wêreldwyd teen ander boere meeding wat wel genoegsaam deur hul regerings gesubsidieer word. Waar is die loonsubsidie van die regering aan plaaswerkers?
Verder skrik ons oormatige streng arbeidswetgewing buitelandse beleggers af en onbekostigbare hoër lone sal meganisering bevorder en afleggings op enorme skaal tot gevolg hê.
Die regering behoort ’n vennoot van die boer te wees, pleks daarvan om hulle te vertrap vir kortsigtige korttermyn- politieke gewin.
As die regering nie dié wegholtrein stop nie, gaan die landbou – insluitende die opkomende boere – soos domino’s val en ander sektore van die ekonomie daarmee saamneem.