- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Los Bokke, gee jonges ’n kans
deur Anti-sterkmanne, Jeffreysbaai
2012-10-20 23:51
Daar was tydens die Curriebekerreeks soveel gewag gemaak, veral deur kommentators en die media, van die opkomende, talentvolle spelers wat hulle op hierdie vlak bewys.
Maar as die Springbokke, wat terloops nie hond haaraf kon maak in die Kampioenskapsreeks nie, terugkeer – haal die belowende spelers nie eens die reserwebank nie, dit ná al hul geswoeg en gesweet om die span te bring waar hulle is.
Ek dink die grootbase moet ’n reël maak dat hoogstens drie spelers per wedstryd vanuit die Springbokgroep toegelaat word om in die Curriebekerreeks te speel. Dit sal die jonger spelers die geleentheid bied om deel van die halfeindstryd en eindstryd-wedstryde te wees. Dit sal ’n groter gelykheid tussen die spanne bring, veral in die geval van die Griekwas, wat geen Springbokke het om hul span te versterk nie.
In ’n mate geld dit ook die Goue Leeus en Cheetahs.
Daar sal wel geredeneer word dat die Bokke kontraktuele verpligtinge het by hulle unies.
Indien so ’n reël toegepas kan word, sal dit dalk die unies twee keer laat dink om aanhoudend Springbokspelers in te suig.
Verder het die OP Kings die maklike paadjie gestap. Hulle moet, en ek hoop dit is nie die geval nie, die Cheetahs wen om enigsins te bewys dat hulle in ’n mate in die Superrugbygeledere hoort.