- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Los gemaksug; deel in Valentynstradisie
deur Reinhold Swart, Stellenryk, Bellville
2012-02-11 15:14
’n Gelukkige huwelik verg harde werk. Gemaksugtige mans sien dikwels nie kans om eens een keer in die jaar ’n bietjie moeite vir vroulief te doen nie en verkies om Valentynsdag as ’n geldmaakskema uit te kryt.
Op Ilse Salzwedel (“Hoe lyk Mnr. Perfek?”, Rapport Boeke, 5 Februarie) se saailand staan goeie kwaliteite soos intelligensie, selfvertroue en lakengimnastiek geil in die blom; selfs Bruce Willis as die bloeiende buiteperd word met die Oscar beloon.
Maar die eienskap waarop die hoogste premie geplaas moet word, is nie in die teks nie: Die bereidwilligheid om hard aan die huwelik te werk – dít is die nuwe sexy.
Die Romeinse keiser Claudius?II was teen die huwelik gekant, want hy was van mening dat getroude mans treurige soldate is. Volgens oorlewering het die Katolieke biskop die heilige Valentinus die soldate in die geheim getrou, en hiervoor (en vir sy Christenskap) het hy op 14?Februarie 270 ’n marteldood gesterf.
St. Valentyn doen steeds die moderne man ’n tweeledige guns.
Eerstens waarsku hy hulle om weer ’n slag aan hul bruide aandag te gee en met iets spesiaal te bederf. Verder gee hy hulle ’n geldige verskoning daarvoor.
As ’n getroude man uit die bloute met blomme die huis instap, sal sy vrou hom dadelik van ’n verhouding verdink, of meen hy voel skuldig omdat hy sprakeloos na die buurvrou in haar nuwe drafbroekie gestaar het.
St. Valentyn blaas reeds in ons nek. Staan die 14de vroeg op en pluk vir jou granaatpitjie ’n blom in die tuin, of hang oor die pastorie se muur om een in die hande te kry...
Al sien Broer Dominee jou deur die kantgordyne, sal hy verlig voel – een paartjie minder vir huweliksberading.
Maak self haar geskenkie op. Jou verfrommelde poging sal net méér waardeer word, en skraap die moed bymekaar en dra sir Paul McCartney se My Valentine aan haar voor.
In die ou dae het die beste sitplekke by die rofstoei vyf pond gekos. Oom Giel Swart, ’n wyse man (my oorlede pa), het altyd gesê ’n gelukkige vrou laat jou voel of jy in die vyfpond-sitplekke sit.
Dus, doen ’n bietjie moeite en smaak hierdie wonderlike gevoel.
Dit is salig.