- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Minder teoloë nodig; meer wat goed doen
deur Skeptikus, Bloemfontein
2012-07-21 23:58
Ek voldoen nie aan die klassieke definisie van ’n Christen nie. Indien ek wel die Bybel as my enigste riglyn sou volg, sou dit vir my duister wees waarom daar teologie- professore met groot salarisse in luukse kantore sit en oor fisika redeneer.
Ek sou dan verwag dat die ware Christen aanhoudend besig is met die mees basiese opdragte van die Bybel, soos “versorg die armes”, die grootste gebod wat die meeste herhaal word in die Ou en Nuwe Testament.
In daardie geval sou ek van prof. Frits Gaum as uitgesproke kampvegter van die Christendom verwag om Saterdag ná Saterdag besig te wees in ’n sopkombuis in Soweto, en nie met hoë filosofie en wetenskap nie. Nié op ’n luukse leer-leunstoel en besig met teorieë nie.
Die probleem met die Christendom is dat ná hul sogenaamde bekering die oes aan predikers en sendelinge groot is, maar dat die doeners bitter min is.
In dié verband het die Katolieke Kerk in Afrika met sy sendingskole en hospitale tot dusver baie meer beïndruk.
Ons kort minder teologieprofessore, predikers en sendelinge, maar baie meer spirituele mense wat boorgate maak, kos plant vir die armes en geld insamel vir die behoeftiges.
Die boodskap van die evangelie is eenvoudig: Rol moue op en doen goed. Eindelose debatte is ’n nuttelose ontsnapping om die ware opdragte van Christenwees vry te spring.