- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Moralis of historikus?
deur Louis du Plessis, Atholl
2012-07-12 12:58
Wie "Apartheid: Was dit dan net boos?" deur prof. Hermann Giliomee (Rapport Weekliks, 26 Junie) vergelyk met "Klad van apartheid nie só weggepraat" deur prof. Anton van Niekerk (Rapport Weekliks, 8 Julie) hou sy asem op dat twee Stellenbosse akademici so hewig kan verskil.
Hierdie verskil volg op Giliomee se omvattende vergelykings in die pas vrygestelde Geskiedenis van Suid-Afrika – Van voortye tot vandag onder redaksie van prof. Fransjohan Pretorius.
Van Niekerk skryf sy "vernaamste beswaar” is dat Giliomee slegs op die "ekonomiese vraagstuk" fokus. Die waarheid is egter: In sy ontledings van altesaam honderd bladsye ontrafel Giliomee talle inmekaargevlegte sosiale, politieke en kulturele vesels van Suid-Afrika se historiese ontwikkeling.
Wat Giliomee skryf, meen Van Niekerk voorts, is "gevaarlik" omdat dit "die persepsie versterk dat wit mense (by name wit Afrikaners) onboetvaardig" is en nie "substantiewe versoening" nastreef nie. Wat probeer Van Niekerk sê? Dat versoening voorkeur bo waarheid moet geniet? Dat Giliomee moet swyg oor feite soos dat besteebare inkomste van swart, bruin en Indiërs in die 1960's en 1970's vinniger gegroei het as dié van wit mense? Of dat die swart skoolgetalle tussen 1950 en 1970 drievoudig toegeneem het?
Giliomee probeer historiese gebeure soos afsonderlike ontwikkeling en township-opstande, soos die toekenning en die afskaffing van stemreg, nie óf regverdig óf veroordeel nie. Inteendeel. Hy probeer dit verstaan en verklaar.
Binne twee weke het Rapport Weekliks meesterlik getoon watter kloof daar is tussen 'n moralis en 'n historikus.