- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Naatloos nie soomloos
deur Ronnie, Linden
2012-12-22 23:56
Om te praat van ‘n “soomlose” herverkiesing, soos in die berig Op ‘n Mespunt op bladsy 4 van Rapport van 16 Desember, is konseptueel nie korrek nie. Die betekenis bedoel was waarskynlik “naatlose verkiesing”.
Die term blyk getranslitereer te wees uit Engels, met “seamless” ‘n metafoor uit die klerebedryf. Maar, as jy ‘n Afrikaanse ekwivalent vir “seamless” wil hê moet jy mooi dink, want “seam” is nie “soom” in Afrikaans nie, dis “naat”. ‘n Kledingstuk sonder ‘n soom (Engels “hem”) is darem erg onafgewerk, terwyl dit mos gaaf sonder naat is.
Onafgewerktheid is darem seker nie die bedoelde betekenis in die berig nie, so dan is “naatloos” die korrekte term.
Joernaliste – en drie was nogal betrokke by die berig – kan darem nie Engelse woorde klakkeloos translitereer na Afrikaans en dink dis korrek nie. Hulle moet darem bietjie dieper nadink oor wat die korrekte Afrikaans sou wees.