- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Net Afrika dink sulke lae vlakke is voldoende
deur Sarel Myburgh, Montana, Pretoria
2012-02-04 14:43
Twee berigte in Rapport van 15 Januarie het my na die pen laat gryp. Tim du Plessis se politieke rubriek “100 en erg aan’t verkalk” en Frans Calitz se brief “Sedert 1994 sink SA soos Afrika in modder”.
Nog nooit is die Afrikanistiese denkpatrone en modus operandi so ontbloot soos op die 100-jarige feesvieringe wat pas in Bloemfontein plaasgevind het nie. Dit was Afrika op sy beste! Dit het aan my verklaar waarom die regering kwalik die mas in Suid-Afrika opkom.
Volgens die minister vir prestasie en administrasie in die presidensie, Collins Chabane (foto), is die regering tevrede met wat die afgelope jare bereik is.
Hierdie standpunt verklaar hoekom daar nie ’n enkele leier van die Westerse wêreld tydens die feesvieringe teenwoordig was nie. Slegs ’n paar gryse leiers van Afrikalande wat in die oë van die Westerse wêreld niks beteken nie.
Westerse leiers het hulle nie verwerdig om tyd te verwyl (mors?) om hierdie verrigtinge gade te slaan nie! Hoekom?
My mening is dat die ANC in 1994 ’n Eerstewêreldland gekry het met ’n sterk ekonomie wat tegnologies redelik gevorderd was. Maar dit word nou duidelik dat Afrikadenke en praktyke dit wat opgebou is deur die wit regering (met al die nadele vir ander bevolkingsgroepe!) die positiewe stelselmatig afbreek tot op vlakke wat net vir Afrika aanvaarbaar is.
Dit is duidelik dat Afrika se norme, waardes en wêreld- en lewensbeskouings ’n negatiewe en eroderende effek op die staatsbestel het. Ek dink dit is net Afrika, met sy leiers en volgelinge, wat glo dat Suid-Afrika op die voorspoedpad is. Hierdie situasie word meegebring deur ’n totale gebrek aan leierskap en ervaring in landsbestuur.
Jare lank het Suid-Afrika se swart leiers vanuit gevangenisse, buurlande en van waar ook al die wit regering gekritiseer. Maar noudat hulle moet regeer, word hul totale onvermoë om komplekse probleme te ontleed en oplossings daarvoor te kry, in die kollig geplaas.
Daar kan miskien enkele leiers wees wat op ’n Westerse standaard is, maar oor die breë landsbestuur is daar net nie leierskap en kundigheid beskikbaar nie (kyk wat gebeur in die munisipaliteite).
Frans Calitz slaan die spyker dus op die kop as hy sê “die wittes, bruines en Indiërs se goedgunstigheid word vertrap”.
My mening is dat daar soveel kundigheid in hierdie groepe is wat kan verseker dat Suid-Afrika progressief beter word en nie verder in die moeras van ondoeltreffendheid vasval nie!
As die ANC-regering nie hierdie kundigheid begin gebruik nie, sal ons voortploeter soos wat net vir Afrika aanvaarbaar sal wees!