- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Net ’n wonder sal SA kan red
deur James Young, Constantiapark
2012-09-02 00:13
Ek lees in die media pres. Jacob Zuma gaan die belastingbetaler R1 miljard kos as hy vir ’n tweede termyn verkies sou word.
Nie sleg vir ’n staatshoof wat die afgelope vier jaar toegesien het hoe alles om hom ten gronde gaan nie. Ek ys om te dink waarop hy aanspraak sal maak as hy met die swaai van ’n towerstaf die agteruitgang in hierdie land kan omkeer.
Die toestand van ons paaie, die misdaad wat intussen in ’n Wilde Weste-skietery ontaard het en die toestand van ons onderwys is voorbeelde van onderwerpe waaroor nie meer geredelik berig word nie. Dit het net te alledaags geraak – so amper Derdewêrelds. ’n Visionêre denker kan hom/haar beswaarlik voorstel hoe Suid-Afrika ná nog vier jaar daar sal uitsien. ’n Mooi prentjie kan dit beslis nie wees nie.
Om mense op regeringsvlak en veral op plaaslike regeringsvlak te vergoed vir wat hulle veronderstel is om na om te sien is een ding, maar om derduisende rande te betaal vir wat nou aan die inwoners opgedis word is iets anders.
Hoe jammerlik het die huidige regering nie misluk met sy program van regstellende aksie nie.
Vra maar vir diegene wat veronderstel is om na die toestand van ons waterbronne om te sien – jy kan eenvoudig net nie met ’n gr. 10-kwalifikasie vir universiteitstudente toegepaste wiskunde aanbied nie. Hoe sien jy om na die proses van watersuiwering as jy absoluut niks daarvan weet nie?
Net die regering het hierdie antwoord.
Suid-Afrikaners is en bly gelukkig optimiste.
Wat hulle maak oorleef, is hul fyn humor en ek is dankbaar daarvoor, want sonder dit is ons in ons kanon in. Ons glo nog aan wonderwerke en wie weet – in die meeste van ons se leeftyd beleef ons dit dalk. Dit (’n wonderwerk) is ongelukkig al wat ons van algehele ondergang kan red.
As daar iemand in die land is wat die begrip van “voorkoming is beter as genesing” by die regeringslui kan tuisbring, behoort hy tot ’n ridder geslaan te word. Die dag as hulle dit begryp, is die wonderwerk dalk nie so vergesog nie.