- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ons maak helde en bly by hul as hul val
deur Reinhold Swart, Bellville
2013-02-23 23:00
Adriaan Basson sit met sy terugruk-na-die-werklikheid-artikel, “Ons maak gode en kyk hoe hul val” (Rapport, 17 Februarie), die pot mis, want ons maak helde en staan by hulle as hulle val.
Dit kan dalk onverskillig wees om iemand op ’n podium te plaas, want jy kan hom nie vrywaar van sy menslike tekortkominge nie. Maar soms is opregte lojaliteit so diep gesetel dat dit nie met een veeg ongedaan gemaak kan word nie.
Vroue het steeds bly swymel oor die moordverdagtes OJ Simpson en Robert Wagner en niemand het hul rug gekeer op die “owerspelige” lady Di en Tiger Woods nie, selfs nie eens op goewerneur Arnie Sperminator toe hy ’n kind by die huishulp verwek het nie.
Op die tuisfront het Hansie Cronjé en Joost van der Westhuizen se skandes op die voorblaaie gepryk, maar hulle het geliefd gebly.
Die mens kan nie werklik sonder helde, drome en die hunkering na die utopiese bestaan nie.
In Suid-Afrika, wat deesdae ’n dorre, heldelose woesteny is, want feitlik alle politieke, sake-, kerk- en gemeenskapsleiers is onder verdenking, het ons omtrent net Madiba, Desmond Tutu en ’n handjievol sportlui en vermaaklikheidsterre om te bewonder.
Hulle verdien die aanhang – en Reeva se ouers het tereg besluit dat die Tropika Island of Treasure-reeks uitgesaai kan word, want waarom sal hulle haar haar sterstatus ontneem noudat sy nie meer daar is?
Oumie Gerti kan maar verseker wees haar Oscar sal altyd ’n held bly, al moet hy ’n groot deel van sy jong lewe in die gevangenis slyt.
Vir Oscar se ondersteuners het die “nag van die lang messe” aangebreek. Die beskuldigings, die verwyte... asof feitlik alle jong manne nie van blondines en gevaarlike skietgoed hou nie.
Die knellende vrae en soeke na antwoorde bly: Was dit ’n oomblik van waansin? Is hy ’n slagoffer van die man se oerinstink om te behou wat hy het? Is dit amputasie-“letsels” wat nou eers wys? As hy “geknak” het, wat het dit veroorsaak?
Dalk was iemand se vonkpos die vonk in die kruitvat. Nie dat die blaam verplaas word nie; dis bloot ’n desperate gryp na moontlike versagting.
Die kruks bly egter: Heldeverering is ons reg, maar ons het nie die reg om te veroordeel nie.