- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Politiek in rade kwel
deur Hennie van Heerden, Lambertsbaai
2012-11-17 23:20
Politieke inmenging op die plaaslike regeringsvlak is seker een van die grootste oorsake vir die onderprestering van munisipaliteite.
Watter maatskappy in die wêreld kan presteer as die topstruktuur gereeld vervang word bloot omdat hulle nie inpas by die voorkeure van politici nie of as daar verskille met die regerende party is? Prestasie geld nie, dis eerder ’n geval van “ek hou nie van jou politieke oortuigings nie”.
Munisipale bestuurders en direkteure is dus uitgelewer aan die genade van politici, of hulle presteer of nie. In baie gevalle gebeur dit dat net wanneer die munisipaliteit op dreef kom, verander die politiek en word die topbestuur afgelê met duur pakkette. Dan praat ons nie eens van skorsings op belaglike gronde bloot om van andersdenkendes ontslae te raak nie. Skorsings met betaling kan maande, selfs jare, voortduur sonder dat verhore gehou word. Dié wat agterbly swyg dan eerder en trap in hul spore, want wie is volgende?
Jy waag dit liewer nie om sommige partye op beleid en prosedures te wys nie. Gevaarliker nog as jy maan oor oorbesteding.
Dan opponeer jy die politieke motiewe en loop die gevaar om óf geskors te word óf ’n pakket aangebied te word. Jy kan ook maklik as ’n rassis gebrandmerk word.