- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
RSG wurg taallonge
deur Jan Langenhoven, per e-pos
2012-11-24 23:31
In hierdie dierbare land het ons wragtigwaar soms geen keuse nie. Almal móét maar by Eskom krag koop, by Telkom ’n lyn huur, by die SAPD oor diefstal kla en, as jy Afrikaans is, boonop na Radbraak Sonder Grense (RSG) luister!
Oorle’ oom Fanus Rautenbach het voor sy dood sommer oor die radio gesê hy kry dit nie meer oor sy hart om in te skakel nie. En Anton Prinsloo sê taktvol hy wens hulle wil ’n taaladviseur aanstel. Ons gewone sterflinge wat die radbrakery met bedroewende mistroostigheid moet trotseer, het egter nêrens ’n plek om ons lot te bekla nie.
As dit soms in ’n program deurskemer dat taalkritiek ontvang is, kry jy die gevoel dat omroepers maar bra afwysend daarteenoor staan en eintlik halfbo kritiek verhewe is. Of dit blote slordigheid (of skandelike onkunde) is wat hulle noop om gewone, gesonde, kleurryke, idiomatiese Afrikaans vir grusame Engelse segswyses of beklemtoning te verruil, kan mens maar net raai.
Wat sou die verskoning wees vir die matelose krompratery? Miskien dat dit postmodern is, of alternatiewe taalregisters, of bloot weersin in die vermeende vloek van Standaardafrikaans?
Ek dink ek sal Eskom en Telkom op ’n manier oorleef, maar Radbraak Sonder Grense werk soos ’n progressiewe siekte – dit krap eers jou taalmaag om, wurg dan die asem uit jou taallonge en uiteindelik tree versaking van jou taalhart in.
Bestaan daar dan geen teenmiddel nie?