- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Sterre sing lank voor WB in SA
deur Kobus Burger, per e-pos
2012-12-16 00:04
Die berig “Dankie, WB 2010!” (Rapport, 9 Desember) oor oorsese kunstenaars wat Suid-Afrika besoek “te danke aan die stadions wat vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 opgerig is”, is misleidend en onakkuraat.
Groot oorsese musieksterre het Suid-Afrika lank voor 2010 al besoek en in verskeie stadions landwyd opgetree.
Die koning van pop, Michael Jackson, het in die Johannesburgse atletiekstadion opgetree. So ook U2 en verskeie ander sangers.
Daarnaas is die Ellispark-stadion geleë waar onder andere The Rolling Stones, Phil Collins en Janet Jackson se teatrale The Velvet Rope-toerkonsert aangebied is.
Op Loftus in Pretoria het The Bee Gees en die Britse popster Robbie Williams en andere hul konserte gehou.
Dit was in ’n tyd toe konserte ook in Durban en Port Elizabeth in opelug-stadions aangebied is.
Op die koop toe het Die Drie Tenore destyds aan die voet van die Uniegebou opgetree in ’n opelugkonsert waarvoor daar in die Uniegebou se tuine ’n spesiale “konsertsaal” gebou is.
Daar is verskeie konsertsale en –arenas (binnenshuis en buite) in Suid-Afrika waar oorsese kunstenaars kan optree.
Dikwels is die keuse van ’n plek bloot geskoei op kommersiële redes en nie omdat kunstenaars “nou graag hier” wil optree nie.