- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Stop politiek in plaaslike rade
deur Egbert Gerryts, Bonnievale
2012-11-24 23:31
Hennie van Heerden (Rapport, 18 November) skryf oor politieke inmenging op plaaslikeregeringsvlak.
Dié inmenging is ondemokraties omdat die keuse van wie jou wyksverteenwoordiger is deur die party se oppergesag bepaal word sonder inagneming van die wense van die wyk se inwoners.
Die proporsionele kiesstelsel op plaaslikeregeringsvlak kan wel as verruimend beskou word omdat minderheidspartye só in die raad ’n stem verkry.
Maar politiek hoort nie in ’n plaaslike regering nie. ’n Eenvoudige oplossing is dat meer onafhanklike kandidate hulle beskikbaar stel. Hulle kan dan saamwerk in koalisie met die kandi- date van ’n politieke party en as teenwig dien vir magsmisbruik na albei kante toe.
Die argument word aangevoer dat dit onaanvaarbaar is weens stemverdeling met verlies van verteenwoordiging.
Aangesien diensverrigting daaronder ly ongeag die politieke party wat aan die bewind is, sien ek onafhanklike kandidate nie as ’n negatiewe alternatief nie.
Daar bestaan inderdaad goeie kandidate wat die wyk se belange en diensverrigting as eerste prioriteit stel.
Maar die partylys-stelsel vir wyke vir direkte verkiesing is onverdedigbaar. Dié wykskandidate het hul nominasie te danke aan die partye en is verantwoording verskuldig in die eerste plek aan die politieke party en nie soseer aan die wyk se kiesers nie.