- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Tegnologie klop voorspellings
deur Jan Venter, Bloemfontein
2012-09-02 00:13
Nou met die suksesvolle Mars-landing wil ek Rapport-lesers terugvoer na ’n artikel van meer as ’n halfeeu gelede toe Rapport nog as Dagbreek en Sondagnuus bekend was.
Dit was in die tyd toe daar sprake was dat wetenskaplikes beplan om ’n vuurpyl na die maan te lanseer.
Die hoof van die Suid-Afrikaanse Weerburo was destyds, as ek dié deeltjie reg onthou, ’n bekende doktor. Sy naam het my intussen ontgaan.
In die artikel die Sondag kort ná die vuurpyl-berig skryf die betrokke doktor dat hulle nooit daarin sal slaag om ’n vuurpyl na die maan te stuur nie, want al sou hulle dalk die nodige dryfkrag kon ontwikkel, sal hulle nooit die maan kan “tref” nie.
Hy beweer, na regte, dat tydens die vlug op pad na die maan sal sekere korreksies aan die trajek gemaak moet word en dat dit onmoontlik is om die nodige berekeninge betyds te kan voltooi om die aanpassings suksesvol te kan deurvoer. Teen die tyd dat die ingewikkelde “somme” gemaak is, sal die projektiel lankal verby die maan wees.
Dit wys ons net watter tegnologiese revolusie daar intussen plaasgevind het. Eenvoudige, goedkoop GPS-rekenaartjies kan vandag waarnemings gelyktydig van minstens vier tollende satelliete neem en die ingewikkelder berekeninge in millisekondes doen om die ruimtelike posisie én beweging van die waarnemer presies te bepaal.
Ek kon die betrokke artikel nie opspoor nie. Dit sal interessant wees as die redaksie dit kan doen en opvolg met ’n artikel daaroor.