- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Toegangsbeheer in en uit die Krugerwildtuin wek kommer
deur Loren le Roux, Durbanville
2012-08-05 00:39
Die ope brief van Rouen Heiberg aan die hoof van SANParke in Rapport van 29 Julie het betrekking. Veels geluk met ’n wel bewoorde en deurdagte brief!
Ek het pas ’n week in die Krugerwildtuin deurgebring. Dit was ’n voorreg om so na aan die natuur te wees en die diere in hul natuurlike habitat te beleef. Mag toerisme nooit voorkeur bo bewaring geniet nie!
Dis juis op hierdie punt dat ek met misnoeë kennis geneem het van die swak toegangsbeheer in en uit die Krugerwildtuin. In geen stadium is ons voertuig deursoek vir wapens nie.
Hoe maklik is dit nie vir sindikate om ons wild en in besonder die renosters daar dood te maak nie? Om jou as toeris voor te gee en op ’n stuk papier valslik te erken dat jy geen wapens inbring nie, is bloot nie genoeg nie.
Die dreigende krisis met renosters behoort die bestuur juis te noop om drastiese stappe te neem wat bewaring en sekuriteit betref.