- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Tyd om indaba te hou oor wie ons is
deur Johann Basson, Faerie Glen
2012-12-16 00:04
Wie en wat is ek? Wie en wat is u, edelagbare?
In Rapport (9 Desember 2012) maak Peter Marais, vise-president van die Bruin Bemagtiging Beweging, die volgende stelling: “Bruin mense weet presies wie en wat hulle is. Dis net dat niemand ons ooit daarna uitgevra het nie. Eers het Pretoria aan ons voorgeskryf dat ons almal Kleurlinge was en nou skryf Luthuli-huis aan ons voor dat ons swart is, maar nie Afrikaan nie.”
Ek verstaan ek is glo ’n soogdier bekend as homo sapiens. Maar is daar sub-spesies van homo sapiens? En wat is die verskille?
Ek lees in die media daar is in Suid-Afrika wit mense, wittes, witmense, blankes, nie-blankes, swart mense, swartmense, swartes, nie-swartes, Afrikane, nie-Afrikane, Afrikaners, Afrikaanssprekendes, Indiërs, Chinese, wêreldlinge en vele andersoortiges.
Wat is die verskil tussen ’n swart mens en ’n swartmens, ’n swarte en nie-swarte en ’n Afrikaan en ’n nie-Afrikaan? En ’n geel mens en ’n geelmens? En ’n geelmens en ’n Indiër? Is daar pikgitswartes en spierwittes en goudgeles? En wanneer kwalifiseer mens as ’n bruine, bruinmens, geelbruin mens, baster, Khoi-Khoi, Khoe, Khoesan, Khoisan, Khoekhoen, Kleurling, Baster, Griekwa, San? Wanneer is ’n Jood ’n Jood en hoe stel mens dit wetenskaplik vas? En wanneer is ’n mens “ ’n mens van kleur”?
Het die tyd nie aangebreek nie dat ons as Suid-Afrikaners vroeg in 2013 te Mangaung om ’n groot kampvuur indaba hou en uitsluitsel kry oor wie wat is in Suid-Afrika? Dan eers sal ons as nasie kan presteer in ’n hoogs mededingende wêreldorde.
Voordat ek verkas na die hiernamaals wil ek graag weet wie en wat ek in Suid-Afrika op planeet aarde is en formeel so genoem word.
Of is dit nie belangrik nie?