- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Viva, Riaan, Sandra, viva!
deur Reinhold Swart, Bellville
2012-10-07 01:25
Deborah Steinmair se artikel in My Tyd (30 September) oor Sandra Prinsloo is ’n bewys dat slegs ’n handjievol Suid-Afrikaners oor dekades heen met hul voorbeeld as rolmodelle kon dien. Nog so ’n getroue karperd is Riaan Cruywagen.
Hierdie ikoniese nuusaanbieder se gansveer-juweel in die jongste Matieland (“Van Plato tot Bacchus”) begin met trooswoorde vir sy tydgenote: “Nostalgie is die spesery wat oudword ’n aangename smaak gee.”
Hierdie stuk wys ook daarop dat ou gebruike groot vormende waarde het. Hy vertel van voetslaandae op Stellenbosch en dan die luukse van ’n “vierdehandse Volla”. Ouers koop deesdae vir hul matrikulant-telge splinternuwe rygoed en ondermyn in die proses ’n belangrike lewensles van kruip voordat jy kan loop.
Volwassenheid is juis ’n sin van verantwoordelikheid wat gekweek word deur die ongerief van die instandhouding van so ’n ou skedonk.
Voorts vertel hy van das-en-baadjie-dra op die kampus, in Stellenbosch se versengende Januarie-Februarie-hitte. Dit herinner aan ons Boishaai-dae in die Paarl en hierdie gebruik wat in diens was van skooltrots en karakterbou. Vandag is die ouers gou in opstand en word goeie ou tradisies as onmenslik uitgekryt.
Vorming en groei vind nie sonder opoffering plaas nie en daarom sit ons juis hande in die hare oor ’n futlose jeug.
Dit is makliker om as ’n miljardêr of uit ’n politieke magsposisie rigtinggewend, normatief en inspirerend as humanis en filantroop bekend te word as om bloot net met ’n navolgenswaardige voorbeeld dít te vermag. Sulkes in ons land het min geword. Die Gandhi’s en moeder Teresas is deesdae op eie bodem maar yl gesaai. En ’n geraamte wag geduldig in feitlik elke kas om uit te klim.
Viva, Riaan, Sandra, viva!