- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Waarheid, moedswillighede en onkunde
deur Dr. Willa Boezak, Blackheath
2012-02-04 14:43
Die artikel van Sydney Opperman, “Fondasie-‘mixture’ geen vals identiteit”, het betrekking. Dis ‘n vreemde mengsel van waarheid, moedswillighede en onkunde. In die eerste sessie al van die eerste nasionale konferensie in 2001 was die kwessie van identiteit bespreek. Toe was die regering se status quo verslag oor die vyf hoofgroepe, naamlik die San, Griekwa, Korana, Nama en Kaapse Khoi – insluitend hul identiteit – reeds afgehandel. Krapperighede soos “Khoisan” is later vervang met Khoi-San om gelykwaardigheid te beklemtoon.
Die antropoloog Schultze se versamelnaam Ko?san, is nie ‘n “wanbenaming” nie, maar was geskep om die oorspronklike eenheid van die twee gemeenskappe aan te dui, vóór die verskillende leefwyses van veeboerdery en ‘n jagterslewe onderskeidend geword het.
Hoewel ek die korrekte skryfwyse Khoekhoen verkies, is die grondbetekenis dieselfde: Ons is ménse-mense. Sa beteken “om te versamel” en Sa-n “versamelaars”. Luidens ons beginsel van self-identifikasie, staan dit die #Khomani San vry om hulleself Boesmans te noem. “Bosjesmannen” was immers ‘n neutrale woord.
Vandag, anders as in die Verwoerdiaanse era, kyk ons nie na mense se voorkoms en bepaal so hul genetiese afkoms nie. My ma het gelyk soos ‘n witvrou. Tog, na my broer, Reginald Boesak, se DNS gekarteer is, het dr. Himla Soodyall vasgestel – langs matrilineale lyne! – dat ons familie tot van die oudste Khoi-San vertakkings hoort.