- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Wette oor belasting knel die oueres
deur Willie Snyman, Oudtshoorn
2012-08-25 22:56
Die huidige bedingingsmag van die onderwyserskorps word bewonder én betreur deur ons, die afgeskeepte en vergete staatsamptenare wat die onderwyswa destyds in moeilike omstandighede deur die drif moes trek.
Bewonder omdat hulle by wyse van hul sterkarm-grootboetie Cosatu die departement van staatsdiens en administrasie so gevange kan hou en gunstige salarisse en diensvoordele kan afdwing. Betreur omdat daar nie vir ons ook ’n soortgelyke monstruositeit (beste beskrywende woord!) beskikbaar is om na ons belange om te sien nie.
Die agbare Pravin Gordhan van die tesourie kla steen en been dat ons Suid-Afrikaners te min spaar, maar intussen voer hy die mees spaar-ontmoedigende belastingwette deur wat veral ons afgetrede staatsamptenare erg raak.
In die lig van die huidige salarisverhoging vir staatsamptenare van 7% en ander verbeterde diensvoorwaardes (terugwerkend tot 1 Mei 2012), klink die skrywe van die staatsdienswerkers se pensioenfonds (GEPF) van 29 Maart 2012 aan ons arme pensioentrekkers erg beswarend. Ek haal aan: “Die GEP-wet skryf voor dat enige pensioenverhoging bekostigbaar vir die fonds moet wees (75% van die VPI). Die raad van trustees het ’n verhoging van 100% van die styging in die verbruikersprysindeks (VPI) van 1 April 2012 goedgekeur.” Dit kom neer op ’n asembenemende verhoging van 4,8%.
Hoewel ons pensioentrekkers nie dieselfde verhoging ontvang nie, word nog net so flink vanuit Pretoria belasting van ons geld verhaal, nog voor ons dit ontvang! Ons betaal ook dieselfde petrolprys, gekke Eskom-elektrisiteitstariewe, eiendomsbelasting en die komende erge prysstygings van kruideniersware ensovoorts.
Ons pensioenfonds kan egter bekostig om miljarde rande van die fonds deur middel van die Publieke Investeringskorporasie (PIC) en ander eksterne fondsbestuurders, onder meer, te belê.
Dan verklaar die GEPF ewe rondborstig: “We are committed to helping to build a better society and to play our part making this happen.”
Intussen vergaan ons pensioentrekkers omdat ons nie meer beleggingsmateriaal is nie! Ek put tevredenheid daaruit dat die goeie Skepper nog altyd aan my voorsien het wat ek nodig gehad het.
Nou het ek nodig dat Gordhan en diegene wat oor ons lot beslis, voortaan slapelose nagte sal hê oor hul bydrae tot ons depressiewe bestaan!