- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Wiese geld word eintlik gesteel?
deur Cilliers Brink, Waterkloof
2012-08-19 00:19
Op Rapport se voorbladstorie oor die miljarde wat dr. Christo Wiese blykbaar die taksman skuld, kon die redelike persoon seker tereg ontsteld gereageer het. Iets soos: “Kan jy dit nou glo!” of “Hoe durf hy?”
Veral as die redelike persoon ’n gewone belastingbetaler is wie se belastingbydrae van sy salaris afgetrek word, sonder dat hy selfs die kans het om iets daarvan te weerhou.
My eerste onwillekeurige gedagte was egter dat Wiese in elk geval die geld beter as die regering sal bestee.
Oor hierdie gedagte kan ek nie skuldig voel nie, want daar is tog ’n verskil tussen inherente moraliteit en die soort wat deur middel van wetgewing deur owerhede opgelê word.
Ja, die Bybel en seker ook ander geloofsgeskrifte wat as gesaghebbend oor die moraliteit beskou word, sê dat jy die keiser moet gee wat hom toekom. En jy moet.
Maar mens wonder wat “die keiser” gaan doen met die R2 miljard van Wiese se geld wat eersgenoemde blykbaar “toekom”.
Want die totaal wat sedert die bewindsoorname van die ANC uit staatskoffers op vrugtelose en vermorste uitgawes verlore is, oorskry seker reeds R2 miljard.
Om nie eens te praat van die vermorsing van belastinggeld wat heeltemal binne die raamwerk van die wet geskied nie.
Terwyl Wiese se geld ten dele werk skep vir duisende Suid-Afrikaners, wat weer na hul gesinne omsien en self ook belasting betaal, is “die keiser” besig om vir homself ’n dorp op te rig in sy eie eer.
Argitekte en boukontrakteurs wat werk aan pres. Jacob Zuma se miljardrand-diktatorskraal in Nkandla sal seker al betaling moet ontvang teen die tyd dat Wiese se vermeende belastingskuld begin inrol.
Dus is die kruks van Wiese se storie nie werklik die skande wat die voorblad-plasing daarvan suggereer, of wat ’n mens in normale omstandighede dalk sou kon insien of aanvoel nie. Hy kan dalk nog sy beweerde aanspreeklikheid in hierdie verband met sukses betwis.
Die kruks is dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers, groot en klein, daarmee vir lief moet neem dat die enigste regeringsinstelling wat doeltreffend funksioneer die een is wat geld inwin vir die ander.