- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Wit, swart veg reeds skouer aan skouer
deur Sarel Myburgh
2012-09-29 22:19
Die artikel van Jean du Preez “Om trots terug te kry” (Rapport, 23 September) het my weer laat dink oor die situasie in die land.
Lank laas het ek ’n storie so geniet. Sekerlik omdat dit heeltyd positiewe ondertone bevat het.
En die feit dat Jean du Preez in sy artikel ’n saadjie gesaai het: Hoop!
Maar soos die bestuurder en kurator van die Delvillebos-museum in Frankryk is daar in Suid-Afrika vele Thapedi Masanabo’s!
Op mikrovlak is daar soveel toegeneentheid, verdraagsaamheid en samehorigheid. Op voetsoolvlak kry ek die indruk dat Suid-Afrikaners daagliks in harmonie saamleef en -werk.
Maar op makro- (regerings-) vlak word foute op groot skaal gemaak. Dit word in die media aan die groot klok gehang en dit laat die gevoel van ’n wanfunksionerende samelewing ontstaan.
Hierdie konstante berigte oor korrupsie en hofsake waarin hooggeplaastes skuldig bevind word, onbekwaamheid van amptenare en swak dienslewering skep ’n persepsie van ’n nasie wat nie trots is nie!
Die “nasiebou” wat dus op mikrovlak plaasvind, word verdwerg deur die foute wat op makrovlak gemaak word.
Maar soos die swart en wit soldate saam geveg en gesneuwel het in die slag van Delvillebos, bou gewone Suid-Afrikaners daagliks aan ’n beter samelewing in Suid-Afrika.
Dit het nou tyd geword dat dit wat op makrovlak gebeur ook moet verbeter sodat die nasiebou wat op voetsoolvlak deur gewone Suid-Afrikaners plaasvind, gestut en gesteun kan word deur hooggeplaastes wat op ’n bekwame wyse hul werk doen.
Dit sal die brandstof wees waarmee die vuur van nasietrots aangesteek sal word.